Skip to main content

Grendeltyd is en was ‘n uitdaging vir almal. Sommige mense het vinnig aangepas, sommige sukkel nou nog. Sommige het nuwe dinge ontdek of geleer, ander het gewonder en gewroeg. Sommige was diensbaar en het die tyd gebruik om ‘n verskil te maak, ander mense het net-net oorleef. Elkeen is anders en het ook unieke emosies en ervarings gehad.

Luister hier na die podcast:

Dit is egter baie belangrik dat grendeltyd ge-“debrief” of ontlont word by kinders en tieners. Vir enige ervaring – positief of negatief – om ‘n geloofsvormende belewenis te wees, is dit belangrik om introspeksie te doen en daaroor te gesels. Eers dan kan mense mekaar help om te ontdek hoe hulle gegroei het en hoe God by hulle teenwoordig was.

Jy kan as kategeet, leier of ouer só ‘n “debrief” gesprek fasiliteer! Hier is ‘n paar wenke daarvoor:

  1. Skep ‘n intensionele tyd om te gesels oor lockdown / grendeltyd / Covid-19 en dit te “debrief”. Jy kan jou kategese groep aanlyn ontmoet of in gesinne tyd skep daarvoor. Stuur vooraf vir hulle die tema of iets vir hulle om in te vul om hulle gedagtes voor te berei.
  2. Wees oop daarvoor om jou eie ervarings eerlik te deel en self deel te neem aan die gesprek.
  3. Gebruik hulpmiddels soos foto’s of ‘n lys emoji’s om te gesels oor emosies en ervarings. Op hierdie webtuiste sal jy ‘n skakel vind na die “Covid-19 Album” vir gesinne. Daar is ook een vir tieners. Dit is ‘n uitstekende hulpmiddel om hiervoor aan te wend.
  4. Kleiner kinders kan ervarings soos hoogtepunte en laagtepunte teken of julle kan selfs saam as ‘n familie of groep ‘n tyd kapsule maak met fisiese items wat julle daarin plaas.
  5. Tieners kan dalk musiek gebruik om hulle ervarings te beskryf en ook meme’s en grappies deel wat vir hulle hulle “lockdown-ervaring” goed opsom.
  6. Gee vir introverte die geleentheid om eers self daaroor te dink en te skryf voor hulle dit deel met die groep.
  7. Maak genoeg tyd daarvoor dat elkeen rustig deelneem. Onthou, dit gaan oor die proses. Wanneer ons só saamgesels en introspeksie doen, help dit ons om ons emosies en ervarings te verwoord en te verwerk. Dit is eers dan wanneer ons kan ontdek en onthou dat God by ons is in hierdie tyd en ons geloof vorm.
  8. Moedig ouers aan om dieselfde in gesinsverband te doen en stuur vir hulle die hulpmiddels aan om daarmee te help. Herinner ook gesinne dat hulle die Dinkjeug Familie App gratis kan aflaai op die Google Playstore of Apple iStore. Dit het daagliks Maandae tot Vrydae huisgeloof oordenkings om saam na te luister en oor te gesels.

Mag die Here jou gebruik om vir kinders en tieners te help ontdek dat God saam met hulle reis.  En onthou dat die Here wat jou geroep het vir hierdie rol, jou sal lei deur Sy Gees.

Leave a Reply