Skip to main content

Anriëtte de Ridder gesels vandag oor hoe ons saam met kinders en tieners kan reis van Hemelvaart na Pinkster

Vandag se podcast kan ook aangestuur word vir alle ouers van kinders of tieners.

 

Luister hier na die podcast:

Of jy nou by die huis, op reis, by die skool of in die kategese is, help kinders en tieners om te reis vanaf Hemelvaart na Pinkster deur gebruik te maak van die Pinkster reis of skattejag. Jy kan eenvoudig hierdie podcast speel en telkens pause om die aktiwiteit of gesprek te volg, of die uitdeelstuk gebruik wat op dinkjeug.co.za beskikbaar is: https://dinkjeug.co.za/wp-content/uploads/2022/05/Pinkster-Skattejag.pdf

Dit kan ook maklik aangepas word vir tieners om eerder as ‘n Pinkster gesels-reis bekend te staan.

Stap 1: Berg
Neem die kinders of tieners “Berg op” of ten minste buitentoe na ‘n tuin of na ‘n oop ruimte.

Verduidelik dat na Jesus se kruisiging en opstanding Hy vir 40 dae op die aarde was en verskeie kere aan sy volgelinge verskyn het. Kinders kan elkeen ‘n takkie of blaar soek terwyl tieners kan gesels oor verhale uit die Bybel wat hulle kan onthou wat in hierdie tyd afgespeel het na Jesus se opstanding, maar voor sy Hemelvaart.

Stap 2:  Nou dink ons oor Hemelvaart
Laat almal op hulle rug lê of opkyk. Hoeveel wolke is daar vandag? Watter prentjies sien jy in die wolke? Lees nou vir hulle Hand 1:4 en 8-11. https://www.bible.com/bible/6/ACT.1.AFR83

Vra daarna: Hoe dink jy het dit gevoel toe die dissipels Jesus se Hemelvaart sien gebeur het?

Stap 3: Kom ons gesels nou oor die bovertrek
Die dissipels moes wag vir die Gees. Gesels oor die vrae: Moes jy al wag vir iets? Was dit moeilik of maklik om te wag? Wat gebeur met jou as jy moet wag?

Laat hulle daarna rustig raak en net die stilte ervaar. Julle kan afsluit hierna deur vir mekaar te bid.

Stap 4: Jesus se opdrag
Jesus het genoem dat Hy die dissipels nie alleen laat nie, maar vir hulle sy Gees stuur sodat hulle Jesus se getuies kan wees tot aan die uithoeke van die aarde.

Werk uit waar is Noord, Suid, Oos en Wes en merk dit.

Gesels dan saam oor die volgende vrae:

  • Hoekom moes Jesus opvaar?
  • Wie kan sy Gees ontvang?
  • Hoe help die Gees ons?
  • Waarvoor wil jy dankie sê?

Stap 5: Die stormwind
Lees nou Hand 2:1-4 https://www.bible.com/bible/6/ACT.2.AFR83

Bly daarna vir 3 min tjoepstil en luister na die geluide. Wat hoor jy? Kan jy die wind hoor? Hoekom dink jy word die Heilige Gees vergelyk met ‘n wind?

Stap 6: Tonge van vuur
Die Heilige Gees het ook soos tonge vuur gelyk wat op elke dissipel gekom het, sonder om hulle te brand. ‘n Vuur herinner ons aan passie, aan krag en aan energie. Die Here help ons om te getuig. Vind nou iets rooi of oranje in die tuin. En tieners, vertel vir mekaar van ‘n keer toe die Here jou woorde gegee het om te bid of te getuig.

Stap 7: Die woord Pentecost / Pinkster beteken 50.
Want 40 plus 10 is 50. 40 dae na Paasfees was dit Hemelvaart. En 10 dae later was dit Pinkster.

Vind nou 50 klein items in die omgewing (bv. klippies, blare).

Stap 8: Vrug van die Gees
Vind ‘n vrug, ‘n blom of saad. Gesels nou oor hoe die Heilige Gees elke dag in jou lewe werk deur jou te troos, te lei, te help, of jou te laat groei.

Stap 9: Die eerste gemeente word gebore
Sluit nou die gesels reis of skattejag af deur saam iets lekkers te doen soos koek of pannekoek te eet, want die eerste Christelike gemeente het onstaan op Pinkster. Ons lees hieroor in Hand 2:43-47. Merk al die werkwoorde in hierdie gedeelte.

Maak ‘n hartjie op mekaar se hande en sê die woorde: Jesus het jou lief en sy Gees woon in jou.

 

Dit hoef nie ‘n lang byeenkoms te wees om sinvol te wees nie.

Die belangrikste is om iewers, al is dit hoe kort, die pause knoppie te druk en op ‘n eenvoudige manier hierdie belangrike gebeurtenis in ons kerkjaarkalender te vier met jou familie of kategese groep of klas. Bid ook dat die Heilige Gees vir elkeen in hierdie tyd (vir jou en vir hulle) opnuut ‘n werklikheid sal wees.

Nog Pinkster uitdeelstukke: https://dinkjeug.co.za/pinkster-uitdeelstukke/

Leave a Reply