Christi Thirion gesels vandag oor wat ons kan doen met kategese tydens eksamens.
Luister hier na die podcast:
Ek vermoed iets van die volgende gebeure vind hierdie tyd van die jaar by jou plaas. Jy het ʼn WhatsApp groep met jou kategese of jeugbediening groep. Jy herinner jou groep daaraan dat julle die naweek bymekaar kom en dat jy daarna uitsien. So paar minute later kom ʼn boodskap of wat – in my geval: “Hi oom, ek kan ongelukkig nie kom nie, want ek leer vir die eksamen.” Dan nog ʼn paar minute later kom ʼn paar ander wat iets sê soos “Jammer oom. Ek kan ook nie kom nie.” Of ander wat sê “Ek ook.” En kom jy dan die naweek vir kategese of jeugbediening, dan is daar een of twee bittereinders, indien enige.
Ek worstel in hierdie tyd van die jaar met hierdie ding. Waarom sien kinders nie kans om in hierdie tyd die jeugbediening by te woon nie? Aan die ander kant, maak ek die somme dat wanneer ons vakansie en eksamens se Sondae aftrek van die jaarkalender, dan het ons maar net die helfte van die Sondae in die jaar beskikbaar vir jeugbediening – en dit is nou indien die kinders alles bywoon!
Ek het egter beleef dat die Here vir my iets wys oor wat in kinders se gemoed aangaan. Een deel is dat kinders die eksamen as ʼn verskoning gebruik om uit die jeugbediening uit te wriemel. Daar is egter ook die geweldige druk wat op kinders lê om te presteer. Ek kom agter dat kinders aangemoedig word om keuringskursusse op universiteit te gaan studeer, want dit is gewoonlik die beroepe wat die beste inkomste en aansien verseker – en om dit te bereik is baie afhanklik van prestasie.
Dis juis in tye soos hierdie waar kinders sekerlik die kerk meer nodig het as andersins.
Ek het ʼn paar weke terug al begin om ons gemeente se kinders voor te berei dat ons nie tydens die eksamen ons gewone bediening gaan hê nie. Vir konteks, ons hoërskool jeugbediening bestaan uit kleingroepe op Sondae voor ons aanddiens. Ons het wel vir ons tieners gesê ons leiers sal steeds Sondae voor die diens daar wees. Ons sal 30 minute voor die aanddiens vir hulle wag met hot chocolate en koffie en dan vinnig met hulle opvang en hoor hoe dit gaan en daarna woon ons die erediens saam by.
Die rede hiervoor is, dit herinner ons kinders aan ‘n paar kern waarhede:
- Jy is nie alleen nie. Neurosielkunde en sosiale sielkunde leer vir ons dat wanneer ons in tye van hoë spanning sosiaal saam met ander mense in-persoon kuier, dit ons help om ons spanningsvlakke makliker te reguleer. So ʼn kort tydjie waar hulle bymekaar kan kom, al doen ons geen kategese inhoud nie, help ons kinders om God se liefde en sorg in die teenwoordigheid van ander te ervaar.
- Ons onthou dat die Here groter is as hul uitdagings. Die inhoud van die meeste van ons lof- en aanbiddingsliedjies is oor God se karaktereienskappe. Wanneer ons dan in ʼn erediens saam met ander mense hierdie dinge sing, dan erken ons die Here se genade, vergifnis, troue liefde, nabyheid, krag, grootheid, gesag, oorwinning en so kan ek aangaan. Soms bid ons om te onthou wie God is, meer as wat ons vir God aanspreek en in eksamentyd help dit ons ook om die eksamen in perspektief met God te hou.
- Ons onthou ook dat ons moet stop (Sabbat) om fokus te herwin (die oog op Jesus) sodat ons tieners kan volhard. Die neurosielkunde leer ons ook dat ons breine meer doen om kennis vas te lê in ons geheue wanneer ons rus. Doelbewuste rus is juis ʼn opdrag van God en ek dink dis juis hoekom – God weet dat ons beter doen wanneer ons uitgerus is.
Ontspan dus oor die uitkomste van julle jeugbediening in hierdie tyd. Verlaag die verwagting en intensiteit, maar vergroot die uitnodiging. Herinner jou kinders daaraan dat die kerk en ons saamwees ʼn manier is hoe God hulle wil versorg in die eksamentyd – en as dit steeds net die een of twee bittereinders is, doen jou beste om hulle met liefde en sorg in die eksamentyd te bedien.