Skip to main content

In ‘n sekulêre wêreld word die viering van die kerkjaar dikwels gedryf deur verbruikersmentaliteit – dink maar aan hoe Paasfees “gekaap” word deur die Paashaas en Kersfees deur Kersvader! Maar hoe kan families tradisies vestig om Paasfees en ander kerklike feeste opnuut terug te “vat” en te vier?

Tradisies help kinders en jongmense om geloof te beleef, want hulle gebruik al hulle sintuie (sien, hoor, ruik, proe en voel) om duidelike prentjies te vorm. Dink byvoorbeeld aan die klanke wat jy assosieer met Kersfees of die reuk van vars paasbolletjies.

Kom ons dink as ouers nuut oor die tradisies wat ons wil vestig in ons families, sodat ons kinders en jongmense ‘n diep bron van belewenisse het wat hulle geloof kan vorm en versterk.

Hier is ‘n paar wenke vir Paasfees:

Gebruik die simbole in die winkels om die Christus verhaal te vertel en te vier:

  1. Eet saam paasbolletjies (“hot cross buns”) en sap om Jesus se laaste ete voor sy dood en die instelling van die nagmaal te herdenk – die brood, wyn en die kruis simbool herinner ons hieraan. Lees saam Matteus 26:26-30
  2. Vis (veral kerrievis) i.p.v. vleis, word op Paas Vrydag geëet uit respek vir Jesus (die Lam) wat gesterf het. Eet op Goeie Vrydag vis en lees die verhaal van die kruisiging in die Bybel of in ‘n Kinderbybel (Matteus 27:32-44, 50-51).
  3. Verf wit paaseiers of leë eierdoppe (kinders kan self eiers uitblaas) in kleure soos rooi (Jesus se bloed/liefde), pers (Jesus is Koning), blou (die Heillige Gees), geel (die ewige lewe / die hemel) en groen (groei). Jesus het gesterf sodat ons die ewige lewe kan hê – eiers herinner ons ook aan nuwe lewe.
  4. Sjokolade eiers dui op die leë graf (hol eiers/eierdoppe) en die klip voor die graf. Eiers en kuikens dui ook op die opstanding (nuwe lewe). Die sjokolade herinner ons hoe lekker dit is om Jesus se kind te wees (Matteus 27: 57-61 en 66, Matteus 28:1-10).
  5. Hasies en henne word verbind aan vrugbaarheid (nuwe lewe, lewe in oorvloed). Vir kleiner kinders kan ‘n mens bloot verduidelik dat alle diertjies saam met ons die partytjie vier, want Jesus leef of die hasie kan ook die Paasverhaal help “vertel”.
  6. Vis herinner ons ook aan die ichtus simbool – die kenteken van vroeë dissipels. Ichtus beteken vis in Grieks, maar is ook ‘n Griekse akroniem wat staan vir Jesus Christus ons Here.

Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is, as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Deut 6: 6-7

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder.

Vir meer idees oor hoe families die kerkjaar kan vier, bestel gerus die boek “Ons Huis Onthou: Families Vier Saam” (de Ridder en van der Westhuizen) by Bybel-Media:

Huisgeloof reeks 3 Ons huis onthou

Leave a Reply