bring Bybels terug na die kategesegroep
Dit is baie belangrik dat elke kind en tiener in die kategese leer om die Bybel lief te hê, te gebruik en dit te lees! Min huise maak Bybellees ‘n prioriteit. Daarom is dit nodig dat kinders en tieners tydens kategese aan die Bybel blootgestel word en dit inoefen. Dan sal dit moontlik ‘n gewoonte raak wat tuis ge-eggo kan word.
Junior kategese
- By kinders val die klem op Bybelverhale en memorisering van belangrike versies.
- Daarom moet elke kind ‘n Bybel kategese toe bring en moedig ons kinders aan om belangrike gedeeltes met plakkers en kleure te merk om dit makliker te vind en te onthou.
- Dit is belangrik dat ouers weet watter teks/Bybelverhaal behandel is, sodat hulle dit tuis ook kan lees.
- Plaas altyd die Bybelstorie binne die groter verhaal van die Bybel sodat kinders die tydlyn en konteks begin verstaan.
Senior kategese
- In die senior kategese moedig ons elkeen aan om die Bybel in konteks te lees en toe te pas, daarom moet tieners ook die Bybel saambring.
- Help ook mekaar om die Bybel op elkeen se selfoon af te laai sodat dit ook in die week gelees kan word en toeganklik is.
- ‘n Kategese groep kan saam ‘n weeklikse rooster volg om dieselfde tekste te lees.
- Basiese stiltetyd-metodes word aangeleer sodat die Woord self gelees en toegepas kan word.
- Tieners word aangemoedig om gedeeltes binne die konteks van die groter “lyne” van die Bybel te lees en die verloop van die Bybel se verhaal te verstaan.
- Gesels in die groepe oor stiltetyd-metodes en ander geloofsgewoontes en oefen dit in.
- Praat oor wat in die pad staan van Bybellees (tyd, motivering, gebrek aan kennis, oorvol gedagtes of ander steurnisse) en gee vir mekaar raad om dit te hanteer.
- Maak weekliks tyd om te vertel wat julle in die Bybel raak gelees het.
Om ons kinders en tieners te motiveer om die Bybel te lees, moet ons self ‘n voorbeeld wees en ons dade moet daarvan getuig.
Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Heb 4:12
Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.
2 Tim 3:16
Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).