Luister hier na die podcast:
Almal is in rep en roer oor die invloed van die Covid-19 pandemie. Almal is vir 21 dae in Suid-Afrika in lockdown of afsondering. Vir baie families is dit ‘n groot uitdaging om vir 21 dae tuis te bly met hulle kinders. Watter 10 wenke is daar vir ouers om hierdie uitdaging in ‘n positiewe ervaring vir die hele familie te omskep?
- Roetine – Etensure, skermtyd, oefentyd, skoolwerk, speeltyd, familietyd. Hierdie gaan natuurlik afhang of ouers moet werk of nie (aanlyn of selfs uitgaan vir werk). Kry inkoop, veral as die kinders groter is. En stel dit visueel voor.
- Slaaptyd – Maak seker kinders kry genoeg slaap. Slaap is baie belangrik vir kinders om emosioneel gesond te bly.
- Oefening – Kry elke dag oefening en sonskyn bv. hindernisbaan buite, “aerobics”, bal-oefening. Daar is baie wenke aanlyn.
- Beperk skermtyd tot sekere tye. Maar kyk ook na wat kinders kyk – is dit ouderdomsgepas, wissel hulle dit af? Daar is soveel interessante kinderprogramme, natuurprogramme asook “virtual tours” waarna hulle kan kyk.
- Familietyd – Doen elke dag iets “opwindend” saam as ‘n familie soos om in die tuin te werk / te bak / te “craft” / saam te sing / saam te dans / ‘n bordspeletjie te speel of kaart te speel, of foto’s te neem ens.
- Stilword tyd – Gee elke dag ook alleentyd waar elkeen in hul kamer of in ‘n hoekie in die huis stil moet speel / lees / na musiek luister. Hierdie “down time” is belangrik om jou emosies te verwerk.
- Check-in tyd – Doen elke dag ‘n “check-in” bymekaar en praat oor emosies. Help kleiner kinders om te onderskei tussen hoe hulle fisies en emosioneel voel. Vra: hoe voel jou lyf, hoe voel jou hart? Help kinders om die emosies name te gee of deel ‘n soet en suur van die dag (iets wat vir jou lekker was en iets wat nie lekker was nie. Moedig ouer kinders aan om ‘n dagboek te hou deur daagliks te skryf of te teken. Sommige sal selfs daarvan hou om gediggies of liedjies skryf.
- Saam eet – Eet ten minste een keer per dag saam, maak saam kos, dek tafel en maak dit ‘n viering.
- Gesprekke – Beperk gedurige gesprek oor Covid-19 en moenie heeltyd nuus luister nie. Onthou dat kinders fyn luister, maar nie altyd die vaardighede het om al die inligting te verwerk nie. Dit kan hulle bang maak of oorweldig om alles te hoor. Maar dit beteken nie julle moenie hulle vrae antwoord of hulle verbied om daaroor te gesels nie. Hou net die hoeveelheid en aard van die inligting wat julle deel ouderdomsgepas.
- Gebed en huisgeloof – Doen ten minste 5 min huisgeloof per dag (lees ‘n vers / Bybelstorie, gesels daaroor en bid saam) – dit kan saam met etenstyd gebeur. Bid ook soggens en saans saam met die kinders. Hierdie tyd van afsondering is ‘n ideale geleentheid om nuwe gewoontes soos gebed of huisgeloof in te oefen en geestelik te groei.