COVID-19Ouerleiding

Wenke vir ouers as kinders gedurig tydens “lockdown” vassit

By Apr 1, 2020 No Comments

Luister hier na die podcast:

 

Almal moes baie vinnig aanpassings maak tot ‘n nuwe manier van leef tydens die Covid-19 pandemie. In Suid-Afrika is daar tans ‘n lockdown of afsondering waar almal verplig word om tuis te bly. Vir baie families is dit ‘n groot uitdaging om vir 21 dae ‘n ruimte met mekaar te deel. Watter 10 wenke is daar vir ouers wie se kinders gedurig mekaar tart, met mekaar vassit of baklei?

  1. Uitdaging vir kinders – Eerstens, onthou dat dit ook ‘n uitdaging vir kinders is. Hulle roetine en wêreld is onderstebo gekeer. Alhoewel kinders dit nie altyd wys nie, kan hulle dalk vrees of angs beleef en dit kom dikwels met negatiewe gedrag soos ongehoorsaamheid of bakleierigheid na vore. Skep ruimte om te gesels, te teken of net rustig te raak elke dag en besef dat hulle nie altyd hulle binnewêreld kan verwoord nie.
  2. Is al die basiese dinge in plek? Maak seker dat al die basiese dinge in plek is soos roetine. By die skool het hulle op vaste tye geleer, geëet en gespeel. Is daar vaste tye vir eet, speel en oefen tuis? Skep ‘n eenvoudige daaglikse roetine en hou daarby. Maak seker hulle eet gesond en gereeld en dat hulle daagliks oefening kry en genoeg slaap. As een van hierdie dinge ontbreek, kan dit die rede wees vir die gedurige onmin in die huis.
  3. Beperk skermtyd – Te veel skermtyd maak sekere kinders moeiliker en moeër. Jy sal as ouer weet wat gepas is vir jou kind. Maak ook seker die inhoud is ouderdomsgepas en word afgewissel met opvoedkundige programme.
  4. Aandag – Dikwels is negatiewe gedrag ‘n soeke na aandag, want selfs negatiewe aandag of terugvoer is beter as geen aandag. Maak seker dat die kinders genoeg aandag saam asook indiwiduele kwaliteit tyd kry. Dit mag ‘n uitdaging wees as jy tuis moet werk (of selfs steeds moet gaan werk), maar probeer ten minste 10 minute per kind elke dag persoonlike kwaliteit tyd te gee. Doen iets wat daardie kind wil doen. Sommige wil gesels, maar ander wil speel of bal gooi.
  5. Speelmaats – as jou kinders gedurig vassit, is nog ‘n wenk dat hulle nie die heeltyd saamspeel nie. Verdeel wie speel met wie in verskillende tye van die dag. Dit sal dadelik die dinamika verander en hulle dwing om verskillende tipe speletjies uit te dink.
  6. Spanwerk – Gee vir hulle ook aktiwiteite om saam aan te pak wat samewerking vereis. Daar is oorgenoeg aanlyn uitdagings. Laat hulle saam een kies en saam voltooi, bv. ‘n “lego challenge” of toertjie “challenge”, of laat hulle vir julle konsert oefen en hou.
  7. Beheer – Daar is baie goed wat nou buite hulle beheer is. Gee vir hulle “beheer” terug oor sekere dinge, bv. laat almal neerskryf wat hulle wil doen op papiertjies en in ‘n houer gooi en laat hulle dan telkens een trek om te doen. So voel elkeen hulle het ‘n beurt om ‘n aktiwiteit te kies wat almal saam moet doen. Of laat hulle elkeen ‘n beurt kry om te kies wat die gesin moet eet – vanaf ‘n lysie. Of gee hulle inspraak in die volgorde van die roetine vir die dag.
  8. Beloon / komplimenteer goeie gedrag en spanwerk eerder as om gedurig te straf (aandag vir negatiewe gedrag kan ‘n spiraal word wat net aanhou). Onthou dat positiewe versterking ‘n baie groter uitwerking het as straf of negatiewe terugvoer.
  9. Sosiale kontak – Laat hulle met maatjies of familie daagliks “video call” of WhatsApp om aandag af te lei van hulle broer en susters en om ook met ander mense sosiale kontak te behou.
  10. Ekstra geduld – Maak oogkontak en eggo hulle gevoelens as hulle gefrustreerd raak. Gee spasie vir afkoel as hulle ‘n meltdown Wees ferm en konsekwent met die belangrike waardes soos om nie mekaar seer te maak nie. Onthou, die 21 dae van afsondering is vir hulle ook ‘n uitdaging. Gee ekstra liefde en wees ekstra geduldig.

Leave a Reply

en_ZAEnglish