Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Werkersdag
Die doel van hierdie weeklikse e-pos is om ‘n praktiese idee te deel van hoe ‘n mens kinders, tieners en families deel kan maak van die erediens en hulle kan laat tuiskom.
Hierdie Sondag is dit enkele dae voor Werkersdag wat op 1 Mei gevier word. Kom ons gebruik die geleentheid om ouer persone in die erediens voor te stel aan jonger kinders.
Indien jy die leesrooster teks (1 Johannes 4:7-11) preek, sou jy kon noem dat ons ander moet liefhê, ook by die werk en by die skool.
Verduideliking van aktiwiteite
Vra die kinders en tieners om na vore te kom. Verduidelik dan eers dat dit in die komende week Werkersdag is en dat ons vandag wil bid vir mense in verskillende beroepe. Maar dat ons eers speurderwerk moet doen om uit te vind watter tipe beroepe daar is en waarvoor ‘n mens kan bid. Verduidelik dat die ouer, afgetrede persone asseblief moet help – vra hulle of hulle bereid sal wees om vir die kinders/tieners te vertel watter tipe beroep / werk hulle gedoen het en watter uitdagings hulle ervaar het. Die kinders of tieners kan die antwoorde neerskryf m.b.v. ‘n kaartjie en potlood.
Speurder aktiwiteit
Elke kind en tiener moet nou gaan staan by een van die afgetrede / ouer persone (lg. kan hulle hand opsteek totdat ‘n jongmens by hulle kom staan). Help die kleiner / skugter kinders om iemand te vind om mee te gesels.
Stel jouself voor.
Nou kan jy vra:
- Wat is oom / tannie se naam? _____________
- Watter werk het oom / tannie gedoen? _______________
- Watter uitdagings het oom / tannie ervaar in dié werk / beroep? ________________________________________________
Hier is ‘n voorbeeld van die kaartjies
Gebed
Nou gaan die kinders of tieners terug na hulle gesinne om die inligting te gebruik om vir mense in daardie beroepe te bid.
Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.