Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Vrouedag
Die intergenerasionele wenk kan gebruik word ongeag wat die tema en teks is van die preek. Dit kan dus weekliks deur enige gemeente gebruik word. Dit fokus nie op die teks van die preek nie, maar op iets anders vanuit ons kerktradisie, geloof of leefwêreld.
Ons is tans in die kerkjaar seisoen van Koninkrykstyd. Hierdie week se tema is Vroue as dissipels, aangesien ons hierdie week Vrouedag in Suid-Afrika vier.
Gee aan elkeen vooraf ‘n naam van ‘n vrou in die Bybel (sien uitdeelstuk) en laai solank die PowerPoint om op die skerm te vertoon (sien aangeheg).
Vrouedag
Ons vier hierdie week Vrouedag, waar ons in Suid-Afrika dink aan die vroue wat in die geskiedenis van ons land opgestaan het vir geregtigheid en vrede. Daar is baie vroue (verwys na vroue skoene) in wie se voetspore ons kan volg om ‘n verskil te maak. Indien jy meer hiervan wil maak, kyk gerus na www.longmarchtofreedom.co.za.
Vroue in die Bybel
In die Bybel is daar baie verskillende tipe vroue wat die Here op verskillende maniere gebruik het. Vra die hulp van die mense rondom jou om te probeer agterkom wie die vrou is wie se naam aan jou uitgedeel is. Dit is ‘n goeie geleentheid om ouer / bejaarde persone en jonger mense aan mekaar voor te stel en te laat gesels in die erediens. Die antwoorde kan jy daarna aan hulle vertoon of uitdeel.
Maak die punt dat allerlei tipe vroue deur die geskiedenis uit verskillende agtergronde, inkomstegroepe en ouderdomme gebruik is om ongeregtigheid uit te wys en verandering te bring. Die Here gebruik ook vroue in die Bybel om sy boodskap te deel en ‘n verskil te maak.
Gebed: Bid vir vroue wat op klein en groot maniere ‘n rol in jou lewe speel.
Uitdeelstuk: (knip die name uit) Vroue in die Bybel name
Antwoorde (PowerPoint): Vroue in die Bybel PPT
KiX kinderbediening lesse oor vroue: https://kixkinders.co.za/god-se-groot-storie-met-die-mens-2018/
Vorige hulpmiddel: https://dinkjeug.co.za/vrouedag-2021/
Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.