Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Sing saam!
Inter-generasionele of “saam” gemeentes gebruik die liturgie om deelname te verhoog. Sang is iets wat oud en jonk saam kan doen en dit versterk almal se geloof. Kies liedere wat die verskeidenheid (styl, taal, ouderdom) in die gemeente verteenwoordig sodat elkeen kan tuiskom in die musiek en die Here kan aanbid.
Voor die lofprysing
Vra – Wanneer gelowiges bymekaar kom, wat doen hulle gewoonlik? (antwoorde – Hulle lees Bybel, bid, luister na die preek, en baie belangrik = SING!)
Vertel – Regdeur die eeue is sing iets wat gelowiges doen: in katakombes, katedrale, kerke… die geskiedenis van die kerk is die geskiedenis van mense wat sing. Het julle geweet die Protestantse Sangbundel – waar ons psalms en gesange vandaan kom – is hierdie jaar (2024) 500 jaar oud! Ons het einde Oktober Hervormingsondag gevier. In die vroeë kerk het gelowiges saam gesing wanneer hulle bymekaarkom. Hiervan lees ons in Handelinge. Maar in die Middeleeue het dit verander – mense het gewoonlik net kerkkore gehad wat gesing het, terwyl die lidmate maar net gesit en luister het. Die Reformasie het dit egter verander – mense soos Martin Luther het baie sterk gevoel dat almal moet sing en Johannes Calvyn het bygevoeg – veral kinders! En dit is presies wat ons nou gaan saam doen – ons gaan sing! Op ‘n dag soos vandag kan ons nie anders as om die Here te loof en te prys nie.
Aktiwiteit: sing met instrumente
Kies ‘n kinderlied of bekende lied en laat almal saam sing en die bewegings saam met die kinders doen. Indien die gemeente musiekinstrumente (soos tamboeryne, klokkies en “shakers”) het, deel dit uit sodat die kinders saam musiek kan maak. Oorweeg ook om linte en vlaggies aan stokkies te heg sodat dit saam met die musiek gewaai kan word. Deelname is belangrik.
Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.