Skip to main content

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Simbole – Ichtus vis

Die intergenerasionele tyd of interouderdom tyd is anders as ‘n kindermoment in dié sin dat dit nie ‘n kort kinderpreek is nie, maar wel ‘n tyd waar oud en jonk kan deelneem aan die erediens. Of daar dus kinders opdaag of nie, gebruik dit as ‘n tyd om mense nader aan mekaar te bring om mekaar se geloof te vorm.

Ons kyk na simbole van die kerk (verlede week die boot, die week voor dit die Christus monogram). Hierdie Sondag kyk ons na die vis simbool en die woord ichtus. Moedig gemeentelede aan om te gesels met mense voor en agter hulle in die banke om verhoudings te bou en by mekaar te leer.

Tyd vir gesprek:
Jy kan ter inleiding dalk vertel van ‘n geheime kode of taal wat jy as kind gebruik het.

Laat hulle dan gesels (oud en jonk) – wie van julle het ‘n geheime kode / taal / “handshake” of het gehad as kind?

Vra daarna: Wie van julle het al die vis simbool gesien?
Hoekom dink jy gebruik Christene ‘n vis simbool? (kry telkens terugvoer)

Die ichtus-vis simbool
Die vis simbool met die woord ICHTUS (wys prent) is ‘n baie ou simbool wat kom uit die vroeë kerk toe Christene vervolg is vir hulle geloof. Die Griekse woord Ichtus beteken vis en is ook ‘n akroniem vir “Jesus Christus, Seun van God, Redder”. Die vroeë Christene het die simbool gebruik om in geheim mekaar te identifiseer. Hulle sou byvoorbeeld ‘n boog in die sand teken en as die ander persoon ‘n Christen was, sou hulle weet om nog ‘n onderstebo boog by te voeg om ‘n vis te vorm.

Bron: https://en.wikipedia.org/wiki/Ichthys

 

Simboliese aksie
Laat die gemeente nou mekaar groet deur twee-twee in die lug die vis-simbool met hulle vinger te teken (een “teken” die boonste boog, dan “voltooi” die ander een dit met ‘n onderste boog). Dan draai hulle weer na iemand anders en herhaal die proses.

Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.

Leave a Reply