Skip to main content

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Sending (Koninkrykstyd)

Die intergenerasionele wenk kan gebruik word ongeag wat die tema en teks is van die preek. Dit kan dus weekliks deur enige gemeente gebruik word. Dit fokus nie op die teks van die preek nie, maar op iets anders vanuit ons kerktradisie, geloof of leefwêreld.

Vir die volgende paar weke fokus ons op die kerkjaar seisoen van Koninkrykstyd. Hierdie week se tema is Sending. Dit sluit aan by die leesrooster teks (Gen 28:10-22 Jakob se droom, veral vers 14), maar dit kan losstaande van die preektema ook gebruik word.

Pak vooraf koringare en ‘n aardbol uit en deel vooraf potlode/penne en papiertjies uit.

Aktiwiteit: Vakansieplekke
Vertel in die banke vir mekaar waarheen jy oral was hierdie vakansie en laat elkeen elke verskillende plek (naby of ver) wat hulle besoek het, op ‘n aparte papiertjie skryf. Al het jy tuis gebly, kan jy steeds die plekke neerskryf waar jy oral was bv. die winkel, ‘n vriend se huis, die parkie ens. Neem dan die briefies in of laat die kinders dit voor kom plak op ‘n kaart.

Koninkrykstyd
Verduidelik kortliks wat die kerkjaar is en dat ons nou in Koninkrykstyd is (Engels – “ordinary time” / “kingdomtide”). Jy sou die kerkjaar kon uitdruk of vertoon:

Kerkjaar Kalender

In hierdie kerkjaar seisoen dink ons daaraan dat Jesus Koning is en oor sy Koninkryk regeer. Hy het sy 12 dissipels geleer om uit te gaan en die goeie nuus te gaan vertel. Net so roep Hy ons as dissipels om Hom te volg en stuur Hy ons na die wêreld om ‘n seën vir ander te wees. Verwys na al die plekke waar hulle was in die vakansie. Ons kom op verskillende plekke (naby en ver) en ons word geroep om oral God se liefde met ander te deel.

Simbole van sending in Koninkrykstyd
Hier is 2 simbole in die kerk wat ons aan ons taak herinner:

  1. Koringare
    Het julle geweet daar is ook op ons land se embleem koringare? Dit is simbolies van vrugbaarheid van die land en groei. Koringare is ‘n antieke simbool wat na oeste verwys, en herinner ons aan Jesus wat die Lewensbrood is wat vir ons sorg, maar ook dat die sending oes groot is (Matteus 9:35-38). As ons dit dus in kerke sien, is dit ‘n herinnering aan die opdrag om die goeie nuus van Jesus te deel.
  1. Aardbol
    Dit dui op Jesus se opdrag aan ons om na die hele wêreld te gaan en die evangelie te deel sodat elke volk en taal op aarde Hom sal ken.

Gebedsaktiwiteit: Bid vir sendelinge
Daar is ook mense wat deur God geroep word om voltyds die evangelie te verkondig. Plaas vooraf die name van die sendelinge wat deur die gemeente ondersteun word in die bulletin of maak ‘n PowerPoint met dié inligting. Laat elke familie een sendeling kies om voor te bid.

Uitdaging: Uitstalling
Nooi gesinne uit om tuis te begin met ‘n Koninkryksuitstalling en om koringare (of ‘n pakkie meel) en ‘n aardbol (of kaart) uit te stal.

 

Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.

Leave a Reply