Skip to main content

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: “Saam gemeentes” maak plek vir die jongstes

Ons doen tans ‘n reeks oor “saam gemeentes” en ons gebruik die kinder-oomblik of omgee tyd om die waardes van intergenerasionele of sáám gemeentes te onderstreep en in te oefen. Hierdie week gaan dit oor die belangrikheid daarvan om plek te maak vir die jongstes in die gemeente.

Hierdie tema sluit ook aan by die leesrooster tekste (Psalm 8 of Genesis 2 se verwysing na die skepping, sowel as Markus 10:13-16 oor die belang van kinders).

Voorbereiding: Papierborde en ‘n bolletjie klei vir elkeen in die erediens. (Skakel na kleiresep: https://dinkjeug.co.za/maklike-speelklei/)

Gespreksvraag aan volwassenes:
Deel hoe kinders al jou lewe kom verander / beïnvloed het (toe jy bv. ‘n ouer geword het of ‘n grootouer geword het, of waar kinders jou al iets geleer het).

Maak die punt dat kinders beslis ‘n ruimte meer raserig of morsig maak, en ‘n mens se lewe meer onvoorspelbaar en vol avonture maak! Maar dat Jesus juis gesê het dat ons by kinders meer oor die koninkryk en geloof moet leer.

Aktiwiteit
Deel papierborde en klei uit aan almal in die diens. Almal moet dan iets uit die skepping uitbeeld met die klei. Laat die kinders en ouer persone dan na mekaar se kuns kyk en mekaar daaroor vertel. Laat die kinders en jongmense met mense gesels wat nie in hulle gesin is nie. Maak moeite om toe te sien dat almal deelneem en met ‘n ander generasie deel.

Jy kan daarna die punt maak dat ons almal soos kinders geword het, en met klei gewerk het. Ons het elkeen iets anders uitgebeeld van die skepping, maar deur na mekaar te luister, het ons soveel meer dinge raakgesien en geleer by mekaar.

 

Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.

Leave a Reply