Intergenerasionele erediens wenk
Tema: “Saam” gemeentes leer by mekaar
Ons doen tans ‘n reeks oor “saam gemeentes” en ons gaan die kinder-oomblik of omgee tyd gebruik om die waardes van intergenerasionele of sáám gemeentes te onderstreep en in te oefen. Hierdie week gaan dit oor die belangrikheid daarvan om by mekaar te leer.
Erfenisdag is om die draai en ‘n heerlike geleentheid om ons kultuur en tradisies te vier, en kos te eet soos braaivleis, koeksisters en melktert. Maar in ‘n diverse land soos Suid-Afrika is dit ook ‘n belangrike dag om by mekaar te leer van mekaar se tradisies.
In ‘n interouderdom, of sáám-gemeente is dit ook belangrik om by mekaar te leer, want ons glo dat God se Gees in elkeen, jonk en oud, is, en die Heilige Gees werk ook deur ons elkeen. Daarom is daar ook tyd in elke diens waar ons deelneem of saamgesels en na mekaar luister.
Aktiwiteit: Erfenisdag speletjie
Kom ons leer ken mekaar beter met die volgende speletjie: Kies een van die volgende (laat die mense telkens hand opsteek) en dan rondkyk vir wat ander geantwoord het:
- Braaivleis of potjiekos
- Melktert of koeksisters
- Tafelberg of Drakensberg
- Namakwaland blomme of Karoo sterre
- Nat Kaapse winters of koue Gauteng winters
- Springbokke of Proteas
- Koffie of rooibostee
- Beskuit of biltong
- Boereworsrol of pap-en-sous
- Blatjang of tamatiesous
- Bosveld of strand
- Bobotie of samoesas
Gesprek: Maak moeite dat volwassenes hier met kinders gesels in klein groepies.
Waarvoor wil jy bid vir Suid-Afrika?
Gebed: Gee tyd vir saam bid of stilgebed.
Lied: Flam 92 Seën ons Here God seën Afrika
Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.