Intergenerasionele erediens wenk
Tema: “Saam” gemeentes groet mekaar
In die volgende paar weke gaan ons ‘n reeks doen oor “saam gemeentes” en ons gaan die kinder-oomblik of omgee tyd gebruik om die waardes van intergenerasionele of sáám gemeentes te onderstreep en in te oefen. Hierdie week gaan dit oor die belangrikheid daarvan om mekaar te groet.
Sawabona
Die Zulu en Swazi mense in Suid-Afrika groet mekaar met die woorde “Sawabona!” Hierdie Zulu of Swazi groet gebruik mense om te sê “hallo” of “goeie dag”. Maar Sawabona beteken letterlik “ek sien jou”. Deur die woorde “ek sien jou” te sê as jy iemand groet, beteken dit dat jy die ander persoon se waarde erken. Jy sê as te ware – ek sien jou raak, jy is ‘n belangrike mens en ek waardeer jou!
Ons is ‘n gemeente wat almal, jonk en oud, ewe belangrik ag omdat ons almal God se kinders is. Ons is almal geskep volgens God se beeld. Ons moet mekaar daarom met respek en liefde hanteer.
Aktiwiteit
Kom ons kyk mekaar in die oë en groet mekaar vanoggend met die woorde: “Sawabona! Ek sien jou!”
Indien dit moontlik is, moedig die gemeentelede aan om rond te loop en almal mekaar te groet, soos dit die gebruik is in baie kerke.
Uitdaging
Na die diens, maak moeite om met iemand te gaan gesels wie se naam jy nie ken nie, of met wie jy nie gewoonlik gesels nie.
Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.