Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Plakkies (Koninkrykstyd)
Die intergenerasionele wenk kan gebruik word ongeag wat die tema en teks is van die preek. Dit kan dus weekliks deur enige gemeente gebruik word. Dit fokus nie op die teks van die preek nie, maar op iets anders vanuit ons kerktradisie, geloof of leefwêreld.
Ons vier tans Koninkrykstyd en dink na in hierdie seisoen oor hoe ons as disspels van Jesus leef. Dit is ook vrouemaand, so ‘n mens sou die tema van dissipelskap kan verbind aan vroue wat deur die loop van geskiedenis opgestaan het vir geregtigheid.
Pak vooraf verskillende grootte en tipe plakkies of skoene uit (insluitende vroue skoene en kinderskoene) en deel ook die uitdeelstuk met simbole van Koninkrykstyd uit.
Koninkrykstyd en plakkies
Verduidelik kortliks wat die kerkjaar is en dat ons nou in Koninkrykstyd is:
In hierdie kerkjaar seisoen dink ons daaraan dat Jesus Koning is en oor sy Koninkryk regeer. Hy het sy 12 dissipels geleer om uit te gaan en die goeie nuus te gaan vertel. Net so roep hy elkeen van ons, gewone mense, om sy getuie te wees. Skoene (‘n tipe plakkie in die Bybelse tyd) is een van die simbole van Koninkrykstyd wat ons soms in kerke sien wat ons herinner hieraan, omdat dit ons help om te onthou dat elkeen van ons (verskillende grootte skoene), oral waar ons gaan (verskillende tipe skoene) deur woorde en dade ander kan vertel van Jesus se liefde.
Gebedsritueel
Gaan gebed vooraf, maar nooi die gemeentelede om verskillende liggaamshoudings te gebruik om saam te bid. Hier is ‘n voorbeeld:
Here, hier is ons hande… help ons om ander te help deur diensbaar te wees
Here, hier is ons hart… help ons om vir ander wat swaarkry, om te gee
Here, hier is ons mond… help ons om woorde wat opbou, te gebruik
Here, hier is ons oë… help ons om ander wat eenkant staan of arm is, raak te sien
Here, hier is ons voete… help ons om, waar ons ook al gaan, U te volg en ‘n lig te wees
Amen
Uitdaging
As jy skoene aantrek in die oggend, bid dat jy gehoorsaam sal wees waar jy ook al gaan die dag.
Simboliese handeling
Gesinne kan ook ‘n paar plakkies of skoene by hulle voordeur hang om hulle hieraan te herinner.
Aktiwiteit
Kinders kan die inkleurblad inkleur en verder gesels oor al die verskillende simbole van Koninkrykstyd.
Uitdeelstuk: https://dinkjeug.co.za/wp-content/uploads/2023/07/Koninkrykstyd-inkleurblad.pdf
Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.