Skip to main content

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Pinkster (eienskappe van die Gees)

Hierdie wenk wil dit makliker vir predikante en diensleraars maak om eredienste ‘n plek te maak waar almal, van enige ouderdom, kan tuiskom. Laat die idees jou help om meer ruimte te skep vir interaksie en deelname.

Hierdie Sondag vier ons Pinkstersondag. Gebruik die geleentheid om te gesels oor die eienskappe van die Gees. (Hierdie sluit ook aan by die leesrooster teks in Romeine 8, veral verse 26 en 27).

Benodigdhede: ‘n waaier en vere, ‘n bak water en ‘n spons, ‘n kers en aansteker, en ‘n boomtak (verkieslik met vrugte aan).

Inleiding
Vertel dat dit Pinkstersondag is en verduidelik hoe dit inpas by die Kerkjaar. Die woord Penta (van “Pentacost”) beteken 50. Dit is 40 +10. 40 dae na Paasfees (Jesus se kruisiging en opstanding) is Hemelvaart en nog 10 dae later is Pinkster wanneer ons die uitstorting van die Heilige Gees op die dissipels vier.

Eienskappe van die Gees (4 beelde van die Gees in die Bybel)

Jy kan ook kinders gebruik om te help om elke beeld te illustreer.

  • Wys hoe die vere in die wind van die waaier waai. Verduidelik dat alhoewel ons nie die Gees kan sien nie, woon die Gees in ons en waai die Gees deur ons. Die Gees lei ons, troos ons en help ons. (Joh 3:7-8)
  • Wys hoe die spons heeltemal deurdrenk word met water en verduidelik dat die Gees vergelyk word met water wat ons vul en help om oor te borrel met vreugde en vrede. (Joh 7:37-39)
  • Wys hoe die kers aangesteek word en verduidelik dat die Bybel ook die Gees as vuur beskryf, omdat die Gees ons aansteek en vuur gee om te getuig, te bid en ‘n lig (voorbeeld) te wees. (Hand 2:3-4)
  • Pluk ‘n vrug van die boomtak en vertel dat die Gees vir ons help om te groei en vrug te dra. (Gal 5:22-23)

(Daar is ook ander metafore vir die Gees in die Bybel soos duif, olie, seël/waarborg, asem en nuwe wyn.)

Vra nou die volgende: (laat hulle met mekaar gesels)

  • Watter beeld van die Gees “praat” met jou m.a.w. beteken iets vir jou vandag?
  • Vertel van ‘n keer toe die Gees in jou of deur jou gewerk het.

 

Alternatiewe idee:

Pinkster idee (kan ook in skoolaanbieding gebruik word)

 

Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.

2 Comments

  • Eldré Bester says:

    Hallo daar😊Baie dankie vir al jul harde werk met hierdie wonderlike hulpmiddels!!!Ek het egter een punt waarop ek jul aandag net wil vestig-julle verwys na die Heilige Gees in die verskillende metafore,bv water,wind,vuur ens.Dis wonderlike metafore,maar die Heilige Gees is nie ‘n “dit” nie.Die Heilige Gees is deel van die Goddelike drie-eenheid en vereis dus ‘n persoonlike vnw om na te verwys-“Hy”.
    Groete en ‘blessings’ op jul wonderlike werk verder!

    • dinkjeug says:

      Goeiedag Eldré
      Die Gees is inderdaad ‘n Persoon en deel van God Drie-Enig. Ons het dit so bedoel, maar het nou ook die plasing reggestel.
      Dankie dat jy DinkJeug gebruik – mag die Here jou werk seën!

Leave a Reply