Skip to main content

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Lydenstyd (simbool: pretzels)

Hierdie week is die eerste week van Lydenstyd. Versier gerus die liturgiese ruimte met pers lap, die sewekandelaar, ‘n doringkroon, ‘n kruis, en die nagmaalbord en -beker as simbole van Lydenstyd. Blaas hierdie week die eerste kers uit van die sewekandelaar om Jesus se lyding en die naderende Paastyd voor te stel. LW: Koop genoeg pretzels vir hierdie week se erediens.

Lydenstyd
Gebruik tyd om die simbole en kerkjaar seisoen Lydenstyd te verduidelik. Onderaan is ‘n skakel vir meer inligting en die kerkjaar wiel. Indien julle gemeente ‘n kanselkleed vir Lydenstyd het, oorweeg om dit in die diens te ruil, sodat jy die geleentheid kan gebruik om die simboliek daarvan te verduidelik. Verduidelik hoekom die geloofsgewoonte van GEBED en VAS belangrik is in hierdie seisoen. Dit sluit aan by die leesrooster teks (Markus 1:9-15) wat vertel van Jesus se tyd in die woestyn.

Meer oor Lydenstyd:

Meer oor Lydenstyd

Kerkjaar kalender (wiel):

Kerkjaar Kalender

Simbool: Deel pretzels uit
Pretzels was in die vroeë Christelike tyd ‘n tipe brood wat hulle in Lydenstyd (in Engels “Lent”) geëet het. Die gelowiges in die ou Romeinse Ryk het in Lydenstyd streng gevas deur geen melk, botter, kaas, eiers, room of vleis te eet nie. Hulle het eerder klein broodjies van water, meel en sout gemaak om hulle karige kos van groente, vrugte en vis te vergesel. Om hulself te herinner dat Lydenstyd ‘n tyd van gebed was, het hulle hierdie brode gevorm in die vorm van arms wat in gebed gekruis is, en hulle “armpies” (“bracellae”) genoem. Hierdie Latynse woord het uiteindelik die Germaanse “pretzel” geword. Pretzels herinner ons dus daaraan dat Lydenstyd ‘n tyd is van gebed en vas.

Interaksie vraag om oor te gesels: Wanneer bid jy graag?

Gebed: Laat almal hulle arms oor hulle bors vou (soos ‘n pretzel) en ‘n tyd lank stil word en vra dat die Here hulle sal help om meer te bid en bewustelik te lewe.

 

Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.

Leave a Reply