Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Kerkbywoning
Die wenk van die week gee weekliks ‘n idee om ‘n kindermoment / familie oomblik te doen tydens die erediens. Dit word egter ingerig as iets waaraan die hele gemeente kan deelneem. Dit kan ook deur enige gemeente gedoen word, ongeag watter teks oor gepreek word.
Hierdie week se tema is kerkbywoning. Hierdie week se wenk (die gespreksvraag) sluit aan by die leesrooster teks oor God wat sorg vir die volk en ‘n nuwe leier belowe (Deut 18:15-20).
Voorbereiding
Plak vooraf ‘n paar blaaibordvelle papier op en kry kryte of Koki’s gereed. Kry voor die diens ‘n paar vrywilligers (oud en jonk) wat bereid sal wees om iets te teken.
Plaas ook die DinkJeug Familie App se temas en skakel om die app af te laai (sien onder) in die bulletin en vertoon dit op die skerm (dit kan weekliks gedoen word).
Aktiwiteit:
Vra die vrywilligers om die kerkgebou te teken – maar hulle kry 2 minute om dit te doen. Dit moet ‘n pret aktiwiteit wees so mense mag maar lag vir die pogings, wees net waarderend vir elkeen se bereidwilligheid.
Kerkbywoning:
Het jy al ooit gewonder hoekom ons eredienste en kategese bywoon en nie maar net tuis kerk op die skerm kyk nie? (Jy kan ook vir antwoorde vra.) Ons oefen om God se betrokkenheid in ons daaglikse lewe raak te sien, en ons het ander gelowiges nodig om dit te doen. Ons ontmoet en aanbid ook saam vir die Here. Daarom gaan ons dit ook ‘n gewoonte maak om soms na mekaar (nie net in ons families nie) te draai en te gesels.
Gesels nou met mekaar: Watter nuwe gewoonte wil jy aanpak hierdie jaar of dalk iets wat jy anders wil doen?
Vertel van die DinkJeug Familie App podcasts – dit help ons om in die week ook saam as families Bybel te lees en te groei en dit neem net 5-10 minute per dag om te doen.
Gebed: Laat die gemeente vir mekaar bid of doen ‘n gebed waarin jy vra dat ons mekaar beter sal leer ken in die gemeente om mekaar geestelik te kan ondersteun.
Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.