Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Inklusiwiteit
Hierdie wenk se tema is inklusiwiteit. Vir gemeentes wat kies om intergenerasioneel te wees, is dit belangrik om gereeld te gesels oor die teologie en waarde van inklusiwiteit, aanvaarding, en liefde. Die tema pas ook by die leesrooster teks van die week, Jakobus 2:1-9, 14-17 (Moenie mense volgens die uiterlike oordeel nie).
Aktiwiteit
Benodigdhede: Smarties
Deel Smarties uit aan elkeen. Elkeen antwoord dan die vraag wat ooreenstem met die kleur van hulle Smartie (of die Smartie wat hulle eerste kies om te eet). As almal reeds ‘n kleur het, vertoon dan eers die vrae op die skerm en laat hulle na mekaar draai en in groepies antwoord. Pas gerus die vrae aan vir jou konteks.
Ek hou meer van… (kies een en verduidelik jou keuse):
Blou – sing of lag
Rooi – sport kyk of sport doen
Oranje – kos maak of eet
Geel – somer of winter
Pienk – oggend of aand
Pers – koffie of koeldrank
Bruin – Apple of Samsung
Inklusiwiteit
Noem ‘n paar voorbeelde van hoe Jesus mense ingesluit het (vissers, kinders, Samaritane, tollenaars, melaatses, sondaars). Maak die punt dat die Smarties aan die buitekant verskillend lyk, maar dieselfde binnekant het. Net so is daar dinge wat ons verskillend maak van mekaar (aan die buitekant) en ons het verskillende voorkeure en persoonlikhede, maar ons het dieselfde binnekant – ons is almal na God se beeld geskape en sy kinders.
Verdere vraag – Hoe kan ons mense insluit en laat welkom voel by die gemeente?
Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.