Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Hervormingsondag
Hierdie Sondag vier ons Hervormingsondag. Gebruik die 4 uitdeelstukke en die illustrasie met ballonne en geskenke om die geskiedenis van die Reformasie te deel asook om oor die 5 solas te gesels op ‘n deelnemende manier.
Onthou dat intergenerasionele of “saam” gemeentes die kindermoment-tyd gebruik om deelname en interaksie te verhoog sodat ons by mekaar kan leer oor geloof en dit kan inoefen.
Vertel iets meer oor die Reformasie
Gebruik die uitdeelstukke – die eerste uitdeelstuk is net vir die predikant om voor te lees of om te gebruik om meer te vertel van Hervormingsondag. Die tweede uitdeelstuk word vir almal uitgedeel – soos wat die predikant gesels, vul hulle die ontbrekende woorde in. Gee vir hulle tyd tussendeur om bejaarde lidmate of kinders te help. Die derde uitdeelstuk is ‘n woordsoek speletjie met dieselfde woorde wat uitgedeel kan word vir groter kinders en tieners.
5 geskenke en 5 ballonne illustrasie
Gebruik hier die vierde uitdeelstuk (inkleurprent) wat vir kleiner kinders uitgedeel word met inkleurkryte. Jy het ook 5 helium ballonne nodig wat vasgemaak is aan 5 geskenke om die 5 solas te verduidelik. Skryf op elke geskenk ‘n woord of gebruik ‘n simbool waarna jy verwys soos wat jy vertel:
- Sola Scriptura – die Skrif alleen (Bybel)
- Solus Christus – deur Christus alleen (kruis)
- Sola Gratia – deur Genade alleen (hart)
- Sola Fide – deur Geloof alleen (vlam)
- Soli Deo Gloria – alle eer aan God alleen (kroon)
Verduidelik dat hierdie 5 geskenke ons (die ballonne) vashou sodat ons nie deur enige winde weggewaai kan word nie, soos die ankers van ‘n skip.
Gespreksvraag: Gesels in families, of draai na mekaar in die banke en gesels oor watter geskenk jy vanoggend oor dankbaar is.
Nog wenke en video’s oor die Reformasie en Hervormingsondag: https://dinkjeug.co.za/?s=hervorming
(of wys ‘n kort videogreep: https://youtu.be/FhGGjRjvq7w)
Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.