Intergenerasionele erediens wenk
Tema: “Groot” herdenkings en verjaarsdae
Gebruik hierdie voorlaaste Sondag in Koninkrykstyd om terug te kyk oor die afgelope jaar en die “groot” herdenkings en verjaarsdae van die gemeentelede saam te vier. Berei vooraf ‘n klompie mooi kaartjies of geskenkies voor.
Geselsvraag: Watter hoogtepunte is jy voor dankbaar van 2023?
Groot verjaarsdae en herdenkings viering
Verduidelik dat ons hierdie Sondag saam met almal wat ‘n groot mylpaal beleef het, wil dankbaar wees. Laat almal na vore kom wat die afgelope jaar ‘n groot verjaarsdag (besluit watter jare bv. 13, 18, 21, 30, 40, 50, 60, 70, 80 ens…) of ‘n huweliksherdenking (bv. 10, 20, 30, 40 jaar ens.) gevier het.
Ritueel en gebed
Woorde is ‘n manier om geluk te wens en te seën. Sit vir elkeen ‘n woord (byvoorbeeld vrede, vreugde, dankbaar, ens.) op ‘n kaartjie vir die persoon wat verjaar het of die huwelikspaar. Hierdie woord is die gebed van die gemeente vir hulle komende jaar. Laat die kinders dit uitdeel. Bid vir hulle seën en dank die Here vir hulle lewens. Wees saam met hulle bly!
Gebed deur Franciskus van Assisi (2de eeu n.C.)
U is heilig, Here.
U is die enigste Here.
U dade is wonderlik.
U is magtig – die Almagtige.
U is groot – die Allerhoogste.
U, heilige Vader, is Regeerder oor die hemel en die aarde.
U is Drie in Een, Here God, die bron van alles wat goed is.
Lewende God, Ewige Waarheid
U is Liefde
U is Wysheid
U is Nederigheid
U is ons Rus,
U is ons Vrede
U is ons Vreugde.
U is Geregtigheid en Sagmoedigheid.
U is ons Rykdom – U sorg vir ons.
U is Skoonheid
U is Teerheid
U is ons Beskermer en ons Bewaarder.
U is ons Veilige Hawe en ons Enigste Hoop
U is ons enigste Troos, die Een in wie ons glo.
U is ons Ewige Lewe, groot en wonderbare Heer.
God Almagtig, genadige Verlosser.
Kom nou, verheerlikte Heer
En verlig die duisternis van ons hart en verstand.
Gee ons ‘n ontvanklike geloof, ‘n vaste hoop en ‘n volmaakte liefde
Sodat ons altyd en in alles in u Wil sal lewe.
Amen
Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.