Skip to main content

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Groei (Koninkrykstyd)

Die intergenerasionele wenk kan gebruik word ongeag wat die tema en teks is van die preek. Dit kan dus weekliks deur enige gemeente gebruik word. Dit fokus nie op die teks van die preek nie, maar op iets anders vanuit ons kerktradisie, geloof of leefwêreld.

Ons fokus tans op die kerkjaar seisoen van Koninkrykstyd. Hierdie week se tema is Groei. Versier die liturgiese ruimte met groen lap en groen takke of ‘n potplant.

Grootmaak stories
Dalk het jy ook al ‘n diertjie grootgemaak? Of dalk ‘n saadjie of ‘n plantjie geplant en dit help groei? Dan weet jy ook hoeveel moeite dit is om daagliks vir jou baba-diertjie of plantjie te sorg en hoe heerlik om te sien hoe die plantjie of boompie groei of die diertjie grootraak.

  • Vertel van ‘n keer toe jy ‘n klein diertjie of plantjie moes grootmaak.
  • Laat almal daarna ook met mekaar hulle stories deel. Dit is ‘n goeie geleentheid om ouer en jonger lidmate met mekaar te laat kennis maak en gesels.

Groei in Koninkrykstyd
Verduidelik dat ons tans nadink oor die simbole van Koninkrykstyd, die huidige kerkjaarseisoen. Ons kan as dissipels van Jesus ook vergelyk word met ‘n boom of ‘n baba wat moet groei (bv. in 1 Pet 2:2 en Psalm 1:1-3), omdat ons figuurlik moet groei en meer leer oor Jesus en hoe om Hom te volg. Dis ‘n lewenslange proses.
‘n Boom en die kleur groen is daarom gepaste simbole vir Koninkrykstyd omdat dit ons herinner dat ons ook geestelik moet aanhou groei.

Gesels met mekaar: Op watter verskillende maniere kan ‘n dissipel van Jesus groei?

Uitdaging: Probeer om hierdie week as julle ry, vir jouself / aan mekaar tekens van groei of nuwe lewe in die natuur of omgewing raak te sien en uit te wys.

 

Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.

Leave a Reply