Skip to main content

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Goeie Herder Sondag

Die doel van hierdie weeklikse e-pos is om ‘n praktiese idee te deel van hoe ‘n mens kinders, tieners en families deel kan maak van die erediens en hulle kan laat tuiskom.

In die kerklike jaar staan die vierde Sondag van Pase as Goeie Herder Sondag óf Roepingsondag (Vocation Sunday) bekend. Dit is die Sondag waartydens kerke regoor die wêreld fokus op die feit dat Christus, die Goeie Herder, mense roep – om in hul alledaagse lewe die evangelie te verkondig en diensbaar te wees. Tradisioneel word Johannes 10:1-10 of Lukas 15:1-7 gepreek, maar die leesrooster teks (1 Joh 4) kan ook hierby aansluit, aangesien dit vertel hoe ‘n lewe van ‘n “skaap” of geroepene lyk wat in liefde leef. Rol vooraf die uitdeelstuk af (sien onder).

Aktiwiteit
Jesus het gesê dat die skape die stem van die herder herken. Neem ‘n paar stemme van gemeentelede vooraf op met jou selfoon (hulle kan groet of kortliks iets antwoord soos “wat doen ‘n herder vir sy skape”). Speel dit dan oor die luidspreker en kyk wie elkeen van die stemme herken.

‘n Alternatief is om prentjies van skape af te rol en weg te steek vir kinders om te soek.
Hier is ‘n bladsy met skapies wat gebruik kan word: skapies

Gesels vrae in die banke (laat oud en jonk almal met mekaar gesels in groepies en hulle lewenservaring deel):

  • Wat dink jy doen ‘n herder alles vir sy skape?
  • Hoekom dink jy word Jesus die “Goeie Herder” genoem?
  • Laat hulle vir mekaar vertel van ‘n keer waar hulle ervaar het dat Jesus vir hulle sorg / hulle lei.
  • Gesels dan oor wat dit beteken dat ons elkeen “geroep” is deur die Here. Onthou om te noem dat elke gelowige geroep is en nie net predikante nie.

Goeie Herder Sondag uitdeelstuk: Goeie Herder Sondag uitdeelstuk

Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.

Leave a Reply