Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Erfenisdag (geloofshelde)
Die intergenerasionele wenk kan gebruik word ongeag wat die tema en teks is van die preek. Dit kan dus weekliks deur enige gemeente gebruik word. Dit fokus nie op die teks van die preek nie, maar op iets anders vanuit ons kerktradisie, geloof of leefwêreld.
Hierdie week is dit Erfenisdag (24 Sept) en ons gesels oor geloofshelde wat ons inspireer.
Erfenisdag
Vandag vir ons Erfenisdag – die dag waar ons ons geskiedenis en kultuur vier in Suid-Afrika. Ons braai, maak potjie, eet melktert en koeksisters en ondersteun die Bokke, want dis lekker om ‘n Suid-Afrikaner te wees.
SA helde
Ek wonder watter Suid-Afrikaanse helde is vir jou ‘n inspirasie? Laat die gemeente in groepies gesels en daarna antwoorde terug gee.
Geloofshelde
Weet julle dat daar baie Suid-Afrikaners was wat ook vir ons geloofshelde of rolmodelle is? Net soos Bybelkarakters soos Moses of Paulus of Marta en Maria, was hulle nie sonder foute nie. Maar ons kan iets by hulle leer, wat ons vandag inspireer om Jesus voluit te volg.
Wys die PowerPoint skyfie – Kan enige een van hierdie geloofshelde se name noem? Geloofshelde foto’s
Vertel kortliks iets oor elkeen en vra dat almal luister om daarna vir mekaar te sê watter een is vandag vir elkeen van hulle ‘n inspirasie. Kry terugvoer van een of twee kinders, tieners en volwassenes.
- Beyers Naudé of Oom Bey was ‘n predikant in die apartheidstyd wat gesê het dat die Bybel nie apartheid goedkeur nie en dit het beteken hy moes bedank uit die kerk.
- Miriam Makeba of Mama Afrika was ‘n wêreldbekende sanger wat die wereld aan Afrika Jazz bekendgestel het, maar ook liedjies geskryf het wat onreg uitgewys het in die apartheidstyd.
- Desmond Tutu was die eerste swart priester wat aartsbiskop geword het van die Anglikaanse kerk in Suid-Afrika. Hy het sy humorsin gebruik om brûe te bou tussen mense en hy het die Nobelprys vir vrede gewen.
- Dr Mary-Anne Plaatjies van Huffel was een van die eerste vroue predikante in die VG Kerk en sy het as leier in die kerk ‘n groot verskil gemaak – in SA maar ook in die wêreld – terwyl sy altyd nederig gebly het.
- Father Michael Lapsley is ‘n Anglikaanse priester wat opgestaan het teen apartheid. Hy het altwee sy hande en sig verloor in ‘n bom wat die SA polisie aan hom gestuur het, maar hy het steeds liefde en vergifnis vir almal gehad.
- AnnaMarie de Klerk was 23 jaar oud toe sy in haar Volla gery het tot in Malawi waar sy ‘n sendeling geword het en haar lewe gewy het aan die mense daar. Sy het o.a. ‘n kleuterskool begin waar sy juffrouens van regoor die land opgelei het.
Hierdie week kan julle meer oor hulle leer en oor hulle gesels deur die DinkJeug familie app af te laai.
Google Play: https://play.google.com/store/apps/details?id=com.dinkjeug.dinkjeugapp&hl=en
Apple iStore: https://apps.apple.com/za/app/dinkjeug-families/id1504077715
Vir vorige Erfenisdag wenke:
https://dinkjeug.co.za/wenk-van-die-week-19-09-2021-erfenisdag-en-diversiteit/
https://dinkjeug.co.za/erediens-wenk-erfenisdag-2022/
Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.