Skip to main content

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Epifaniefees

Hierdie Sondag vier ons Epifaniefees. Dit is ‘n ideale geleentheid om ‘n relatief onbekende kerkjaarseisoen (of fees) bekend te stel en die geleentheid in te rig sodat alle ouderdomme kan deelneem. Koop vooraf bordkryt en/of druk die seënkode uit. Reël ook vir koek en tee na die diens.

Meer oor Epifanie
Die Epifaniefees verwys na die verskyning of menswording van Jesus en word deur verskillende denominasies reg oor die wêreld gevier op 6 Januarie. Sommige westerse kerke noem dit 3 Koningsondag, omdat die besoek van die wyse manne uit die Ooste herdenk word. Die fees lei ook die kerkjaarseisoen Epifanie in, wat strek tot net voor Lydenstyd. Daarom is die ster en die kleur wit belangrik, omdat dit ons herinner aan Jesus se lig en die Betlehemster.

Epifanie Tradisies
Sommige kerktradisies sluit in dat kinderkore sing in die diens, aangetrek soos die wyse manne en hulle word “star singers” genoem. Nog iets interessant is dat die aand van die 5de Januarie “the 12th day / Eve of Christmas” genoem word waar Kersversierings afgehaal word (vandaar die liedjie…”Twelve Days of Christmas” https://youtu.be/oyEyMjdD2uk). In Oosterse kerke is Jesus se doop ‘n belangrike deel van Epifanie en daarom is water ‘n belangrike simbool.

Merk die deur / seën van huise
In baie denominasies is die gebruik om met Epifaniefees huise te seën en op die kosyne ‘n kode te skryf: 20 ✝ C ✝ M ✝ B ✝ 24

Die 20 aan die begin en 24 aan die einde van die kode = 2024

Die CMB is volgens tradisie (nie in die Bybel) die name van die 3 “konings” – Casper, Melchior en Belthazar, maar dit is ook ‘n akroniem vir die Latynse seëning Christus mansionem benedicat (‘May Christ bless this house’) – Mag Christus hierdie huis seën.

Gesels: Hoekom dink julle het mense hierdie seënkode op hulle deurkosyne geskryf?

Aktiwiteit en uitdaging
Laat van die kinders die kode of die woorde op die deurkosyne van die kerk se deur skryf (hou trapleertjies en bordkryt reg). Druk ook op papiertjies die “kode” of gee vir elke gesin of huis ‘n stukkie bordkryt met die uitdaging om tuis ‘n seën op hulle deurkosyn te skryf.

Uitnodiging na koek en tee na die kerk
Nog ‘n tradisie is om op Epifanie die Driekoningskoek te eet – nooi almal uit om na kerk koek en tee te geniet.

https://en.wikipedia.org/wiki/Epiphany_(holiday)

https://en.wikipedia.org/wiki/Chalking_the_door

https://en.wikipedia.org/wiki/King_cake

 

Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.

Leave a Reply