Skip to main content
Vakansie- en spesiale daeVieringe

Dag van Danksegging en Verootmoediging erediens wenk

By March 8, 2024No Comments

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Dag van Danksegging en Verootmoediging

Sondag is dit ‘n spesiale Dag van Danksegging en Verootmoediging in die kerk. Maak hierdie geleentheid vriendelik vir verskillende ouderdomme in die erediens. Dit sluit aan by die leesrooster teks (1 Joh 1, veral verse 8 en 9), maar dit kan gedoen word ongeag watter teks oor gepreek word.

Hulpmiddels
Dinge wat lekker ruik bv. kaneel, kruisement blare, rose, koffiebone, vars kruie, seep, ensovoorts asook ‘n botteltjie lekkerruik olie.

Reuke en goeie herinneringe
Wys die verskillende items wat lekker ruik (jy kan selfs ‘n paar mense daaraan laat ruik) en vra elkeen moet ‘n reuk kies wat hom/haar dadelik aan ‘n goeie herinnering laat dink bv. kaneel laat my dink aan my ouma se pannekoeke.

Laat hulle hulle stories met mekaar deel.

Lekkerruik olie
Verduidelik dat in die Bybelse tyd die geur van lekkerruik olie jou herinner het aan iemand belangrik, want konings of belangrike mense is met duursame olie gesalf. Maar dit het hulle ook herinner aan iets hartseer – iemand se begrafnis. Daarom is Jesus ook gesalf met olie voor sy kruisdood.

Dag van Danksegging en Verootmoediging
Verduidelik dat dit ‘n spesiale dag in die kerk is waar ons nederig kniel voor Jesus, wat sy lewe vir ons gegee het. Ons gee in reaksie ons lewe aan Hom oor en sê vir Hom dankie. Ons sê ook jammer in nederigheid vir dit wat ons verkeerd doen / dink (verootmoediging). Moedig almal aan om hulle hande met die palms na bo op hulle skoot te sit (of selfs te kniel) as ‘n teken van oorgawe en dank terwyl jy voortgaan in gebed.

Uitdaging van die week – Elke dag hierdie week wanneer jy was met seep of deodorant / lekkerruik goed gebruik, sê vir Jesus dankie vir iets.

 

Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.

Leave a Reply