Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Simbole – Christus-monogram
Die intergenerasionele tyd of interouderdom tyd is anders as ‘n kindermoment in dié sin dat dit nie ‘n kort kinderpreek is nie, maar wel ‘n tyd waar oud en jonk kan deelneem aan die erediens. Of daar dus kinders opdaag of nie, gebruik dit as ‘n tyd om mense nader aan mekaar te bring om mekaar se geloof te vorm.
Die Christus-monogram
Wys ‘n foto van die Christus-monogram:
Ek wonder wat julle sien as julle hierna kyk en wat julle dink dit kan beteken. Gee tyd vir gesels en terugvoer (moenie enige bydraes afmaak nie).
Hierdie simbool word die Christus-monogram genoem (in Engels: Christogram) en kan in baie gemeentes gesien word. Hierdie is een van die oudste Christelike simbole uit die vroeë kerk en is ook deur Konstantyn gebruik. Dit bestaan uit die twee letters uit die Griekse alfabet wat die eerste twee letters is van die woord Christus – X of Chi (Christus word met ‘n “x” gespel in Grieks, die “x” klink egter meer soos ons “k”) en die letter R of Rho (die letter “r” in Grieks lyk soos ons letter “p” maar word “r” uitgespreek). Hierdie afkorting het ‘n simbool geword wat Jesus Christus voorstel. In Latyn is dit ook ‘n afkorting vir Christus is Koning (Christus Rex).
Soms is daar nog twee Griekse letters weerskante van die monogram – die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet – alfa en omega. Dit dui daarop dat Jesus Christus die begin en einde is.
Gee weer tyd vir gesels:
- Hoekom dink julle is dit belangrik om simbole te hê?
- Wat beteken hierdie simbool vir jou?
Bron: https://en.wikipedia.org/wiki/Christogram en https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/AJA03031896_668
Hier is ‘n inkleurblad vir kinders: PDF Inkleurblad Christus monogram
Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.