Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Bybelsondag
Hierdie wenk wil vir predikante en diensleraars dit so maklik moontlik maak om inter-generasionele geloofspraktyke deel te maak van die erediens en jeugbediening.
Hierdie Sondag is dit Bybelsondag.
Wenk 1 – Vind die teks
Laat die ouer mense in die gemeente die jonger mense help om die teks van die preek in die Bybel op te soek deur gebruik te maak van die inhoudsopgawe. Kinders kan die teks in die ouer mense se Bybels soek as hulle nie Bybels het nie, maar hou ook ekstra Bybels gereed vir die wat Bybels vergeet het.
Wenk 2 – Bybel tydlyn
‘n Bybelse tydlyn help kinders (en volwassenes!) om te sien hoe die mense en gebeure in die Bybel die merkwaardige storie van ons geloof vertel. Druk die Bybel tydlyn uit vir elkeen in die erediens (A5): https://dinkjeug.co.za/bybel-tydlyn/
Geselsvraag: Watter Bybelstorie is jou gunsteling verhaal? Laat almal hulle antwoorde met mekaar deel en dan mekaar help om die stories op die Bybel tydlyn te plaas.
Gebruik daarna die Bybel tydlyn om te verduidelik dat die Bybel nie op een slag geskryf is nie, en dat die verhale daarin baie oud is en oor ‘n lang tyd afspeel in ‘n sekere volgorde. Ons moet dus weet waar ‘n storie in die verloop inpas. Verduidelik dit aan die hand van die verhaal van Dawid en Goliat – ons kan nie soos Dawid klippe gooi na ons vyande nie, want Jesus het ons daarna geleer om mense te vergewe. Net so het ons nie meer slawe nie, en glo ons nie meer daarin om oorlog te maak of dat ‘n man met baie vroue mag trou nie. Daar is egter ‘n goue draad deur al die verhale.
Geselsvraag: Wat is die goue draad deur die hele Bybel? (moontlike antwoorde – God is lief vir mense, God is deel van mense se stories, God is genadig, God is op reis met die mensdom, ens.)
Vorige Bybelsondag wenke:
- Uitdeelstuk oor die geskiedenis van die Afrikaanse Bybel asook ‘n inkleurblad: https://dinkjeug.co.za/wp-content/uploads/2023/08/Bybelsondag-uitdeelstuk.pdf
- Uitdeelstuk oor die metafore van die Bybel: https://dinkjeug.co.za/bybel-metafore/
- Vorige wenk oor verskillende Bybelgenres met ‘n uitdeelstuk: https://dinkjeug.co.za/erediens-wenk-bybelsondag/
In Augustus vier ons naas Vrouemaand ook Barmhartigheidsmaand. Sien Little Seeds se vierde eredienswenk deur die skakel te volg:
Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.