Skip to main content

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: “Saam gemeentes” maak plek vir die oudstes (Biddag vir Bejaardes)

Ons doen tans ‘n reeks oor “saam gemeentes” en ons gaan die kinder-oomblik of omgee tyd gebruik om die waardes van intergenerasionele of sáám gemeentes te onderstreep en in te oefen. Hierdie week gaan dit oor die belangrikheid daarvan om plek te maak vir die oudstes en eensames in die gemeente. Ons sluit aan by Biddag vir Bejaardes en dit is dus ‘n ideale geleentheid om moeite te doen om die bejaardes in die erediens te koppel aan die kinders / gesinne / jonger mense in die erediens.

Voorbereiding:
Reël vooraf dat daar genoeg cappuccino sakkies is om uit te deel vir elke bejaarde saam met ‘n kaartjie wat vooraf uitgedruk en geplak word (sien foto). Nommer elke kaartjie. Koop ook plakkers en nommer dit ook (daar moet ewe veel plakkers en kaartjies wees). Reël ook vir ‘n tee/koffie drink geleentheid na die erediens.

Deel stories
Vandag is dit Biddag vir Bejaardes en ons kan nadink oor wat dit beteken om ‘n “saam gemeente” te wees. Draai na mekaar in die banke en vertel vir mekaar van ‘n ouer persoon wat ‘n invloed het in jou lewe – dalk bure, ‘n familielid, ens. Vertel vir mekaar aan wie jy gedink het en hoekom.

Verduidelik aktiwiteit met cappuccino sakkies
Elke sakkie en kaartjie het ‘n nommer op – deel dit uit aan die gesinne / kinders / jonger mense. Deel dan plakkers met nommers op uit aan elke bejaarde. Verduidelik dat na die erediens elke jongmens / gesin die bejaarde moet gaan soek met dieselfde nommer en dan vir hom/haar die kaartjie en cappuccino sakkie moet gee. MAAR hulle moet ook mekaar se name leer ken, uitvra oor mekaar se lewens en saam koffie drink.

(Die orige sakkies koffie kan uitgedeel word aan mense wat dalk vir ‘n ander bejaarde wil neem wat nie in die erediens is nie.)

Biddag vir Bejaardes 2024 cappuccino kaartjie

Biddag vir Bejaardes Gebed
Here, wanneer ons warm koppies koffie drink op ‘n koue dag, maak dit ons hande en liggame warmer. Net so, maak die liefde van iemand wat vir ons omgee en met ons gesels, ons harte warmer.

Vandag, op Biddag vir Bejaardes, sê ons dankie vir die ouer mense wat vir ons omgee en ‘n invloed in ons lewens het of gehad het. Ouer mense wat vir ons gesorg het, hulle wysheid gedeel het, wat ons gedien het en wat vir ons gebid het. Dankie ook vir elke bejaarde persoon wat deel is van ons gemeente.

Here, dis altyd lekker om sáám met iemand koffie te drink, en hartlik te gesels. Daarom wil ons vandag bid, vir elke bejaarde wat alleen is of eensaam voel. U ken hulle bekommernisse, hulle siek-wees, hulle alleenheid en hulle hartseer. Dankie dat U altyd by hulle is, en dat hulle in u hande veilig is.

En mag U ons help om elkeen raak te sien en vir elkeen om te gee en hulle harte te verwarm.

Amen.

 

Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.

Leave a Reply