Skip to main content
Erediens: KerkjaarGeloofsgewoontes

Bybel lees (geloofsgewoontes) en Hervormingsondag

By October 21, 2021April 1st, 2022No Comments

Intergenerasionele erediens wenk

Tema: Bybel lees (geloofsgewoontes reeks) en Hervormingsondag

Ons is besig met ‘n reeks oor geloofsgewoontes. Ons tema hierdie Sondag is Bybel lees. Dit is ook Hervormingsondag. Jy kan een of meer van die volgende idees gebruik.

Opsie 1: Vertel iets meer oor die Reformasie
(Gebruik dalk ‘n hamer, spyker en papier om te illustreer of wys ‘n kort videogreep)
Martin Luther was ‘n priester wat 95 stellings in die jaar 1517 neergeskryf het en op die kerk se deur vasgespyker het. Hy wou hierdie 95 sake onder die aandag bring van die kerk van daardie tyd, die Rooms Katolieke Kerk, byvoorbeeld dat mense nie moes betaal vir hulle sonde nie, maar deur genade vrygespreek word. Dit was die begin van die Reformasie / Hervorming. Hy het ook die Bybel vertaal in Duits, sodat gewone mense dit ook kon lees (voorheen was dit net in die brontale Grieks en Hebreeus beskikbaar, en in Latyn vertaal – wat net die priesters kon lees). Hy het geglo God praat deur die Bybel met alle mense. Hierdie was die begin van die Protestante kerk, waarvan die NG Kerk deel is.

Opsie 2: Verskillende Bybel vertalings
Vertoon verskillende Bybels in verskillende tale en style. Wys byvoorbeeld ‘n teks in Hebreeus en vertel dat hulle van regs na links geskryf het. Beklemtoon dat God oor eeue heen, deur die antieke stories wat opgeskryf is, vir mense inspireer en lei. Ons het mekaar en die Gees nodig om die Bybel te lees vandag. Dit is ook ‘n goeie geleentheid om die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling bekend te stel https://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php

Opsie 3: Metafore vir Bybel lees (gebruik fisiese hulpmiddels hiervoor)
Is dit nie wonderlik dat God deur sy Gees deur die Bybel met ons praat nie? Die Bybel gebruik verskillende metafore om die Bybel se doel te verduidelik. Hier is ‘n paar van hulle:

  • ‘n Spieël (Jak 1:23)
  • ‘n Swaard (Heb 4:12-13, Ef 6:17)
  • ‘n Lamp (Ps 119:105)
  • ‘n Vuur (Jer 23:29a)
  • ‘n Hamer (Jer 23:29b)
  • Saad (1 Pet 1:23, Luk 8:11, Matt 13:3-8)
  • Melk (1 Pet 2:2)
  • Silwer (Ps 12:6)
  • Reën (Jes 55: 10-11)

Gesprek:

  • Watter een is vandag vir jou nuut / relevant?
  • Gesels met iemand wat ouer / jonger as jy is oor wat die Bybel vir jou beteken.

Opsie 4: Bybel-speletjie
Speel dié speletjie as ysbreker in die erediens – laat elkeen ‘n nommer kies tussen 1 en 6 en vertoon daarna die vrae wat hul moet antwoord op die skerm. Dit kan ook tuis met ‘n dobbelsteen gespeel word.

  1. Wat is jou gunsteling Bybelstorie in die Ou Testament?
  2. Wat is jou gunsteling Bybelstorie in die Nuwe Testament?
  3. Noem ‘n verhaal in die Bybel met ‘n vroue-held.
  4. Wie is jou gunsteling Bybelkarakter in die Bybel?
  5. ‘n Vreemde verhaal / persoon in die Bybel is….?
  6. Watter Bybelverhaal het ’n dier in – watter dier?

Hulpmiddels

DinkJeug Familie App (Google Play of Apple iStore) – kyk onder die Huisgeloof argief vir die reeks oor die Bybel by 26-30 Okt 2020.

Video’s:

Uitdeelstuk vir die Belydenisklas oor die inspirasie en interpretasie van die Bybel.

Ons glo webwerf en App – ‘n dissipelskap hulpmiddel wat deur kleingroepe, gesinne, kategese-groepe of individue gebruik kan word.

Leave a Reply