Intergenerasionele erediens wenk
Tema: God: Drie-in-een
Vandag vier die Christelike kerk Drie-eenheidsondag waar ons nadink oor die Drie-in-Een gestalte van God.
Hulpmiddels: Gebruik hulpmiddels soos driehoekige chips (Doritos), vlaggies, ‘n leer, ‘n “pool” tafel se driehoek, ‘n sny pizza, ‘n tent, toebroodjies in driehoeke gesny, ‘n Toblerone sjokolade, ‘n klerehanger ens en pak dit vooraf uit. Of google prente soos van ‘n seilboot met ‘n seil, piramides, ‘n driehoekige dak, driehoekige padtekens, of ‘n skerp berg om op die skerm te wys.
Gesels: Wat het hierdie hulpmiddels / prente in gemeen?
Laat almal saam gesels en vra dan vir antwoorde…
Ja, ‘n driehoek!
Christene dwarsoor die wêreld vier vandag Drie-eenheidsondag waar ons nadink oor die Drie-in-Een gestalte van God.
Die woorde “God Drie-Enig” of Drie-Eenheid of Triniteit word deur Christene gebruik om iets baie spesiaal en uniek aan ons geloof te beskryf – ons glo dat God drie dele, of 3 “persone” het. Triniteit beteken ‘n groep van 3 of om drie dinge gelyktydig te wees. Ons aanbid nie 3 aparte gode nie, maar God, Jesus en die Heilige Gees is EEN God. Die 3 dele is ook elkeen volledig God.
Al 3 vorm ‘n eenheid – amper soos die drie sye van ‘n driehoek. Die lengtes van die sye en die hoeke kan verskillend wees, maar hulle vorm saam die driehoek.
Meer oor die Drie-eenheid simbool (wys ‘n prent hiervan)
Die kenteken of simbool van die Drie-eenheid is die “triquetra” of Drie-eenheid knoop of Trinity Knot in Engels. Die woord “triquetra” beteken driehoek in Latyn en dié simbool is sedert die 4de eeu oorgeneem deur Christene en gebruik om die Drie-eenheid voor te stel.
Gesels: Kan julle dink aan nog alledaagse dinge wat bestaan uit 3 dele, wat ons kan gebruik om iets te vertel van wie / wat die Drie-eenheid is?
Gee geleentheid vir gesprek en kry dan terugvoer. Moontlike antwoorde kan voorbeelde insluit soos ‘n lemoen (skil, vrug en pitte); ‘n boom (wortels, stam en blare); kers (was, pit en vlam), ‘n deur (raam, deur en skarniere) ensovoorts.
Gesels in die banke: Hoe sal jy die Drie-eenheid aan iemand verduidelik? Of watter “een” van die Drie-Eenheid wil jy graag beter leer ken?
Simboliese handeling
Seën mekaar met die woorde waarmee Paulus sy brief aan Korinte afsluit in 2 Korintiërs 13:13, die leesrooster teks vir vandag (laat die gemeente die woorde agter jou aan herhaal):
“Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.”
Aktiwiteitsblad vir kinders: https://dinkjeug.co.za/drie-eenheidsondag-vir-kinders/
Video’s
Holy Spirit deur The Bible Project
God deur The Bible Project
Liedere
‘May the grace‘ deur Mark Bradford
Vader, Seun, Heil’ge Gees (lied 450)
Drie-Eenheid – Oase Gemeente
Kinder video’s
What is the Trinity? (1:28)
Kids corner: The Holy Trinity (4:56)
How To Draw: The Trinity Shield (For Kids!) (6:58)