Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Lentedag! (Bybelsondag)
Hierdie week vier ons Lentedag (1 September). Dit is ook Bybelsondag en dalk wil jy die geleentheid gebruik om iets te sê oor ons nuwe Bybelvertaling of oor die werk wat gedoen word rakende Bybelvertaling en -verspreiding. Sien onderaan die skakels vir meer inligting hieroor.
Lentedag!
Hulpmiddels: Gebruik foto’s van lente (nuwe bloeisels aan vrugtebome, lammetjies, blommetyd ens.) in jou aanbieding of pluk ‘n mooi tak met bloeisels vir die liturgiese ruimte. Sit ook die 10 groen uitdagings op ‘n skyfie en in die bulletin.
Gesels in die banke:
– Watter seisoen is jou geliefkoosde seisoen en hoekom?
– Wat is die mooiste deel van die skepping vir jou?
Gee daarna ook jou eie antwoord as liturg.
Verbind die seisoene aan God die Skepper se aktiewe skeppingswerk – nie net het Hy aan die begin geskep nie, maar Hy hou aan om te skep en die skepping te onderhou. Elke jaar met die viering van lentedag en lente, raak ons bewus daarvan dat God nuwe lewe bring.
Koninkrykstyd
Verduidelik dat ons tans steeds in Koninkrykstyd is. In hierdie kerkjaar seisoen (wat duur van ná Pinkster tot voor Advent) vier ons die koningskap van Jesus as die Here, wat regeer en herskep deur die werking van sy Gees op aarde. Ekologie is ‘n belangrike tema in dié tyd en die groen kleur van Koninkrykstyd herinner ons ook aan ons taak om die aarde te versorg en “groen” te leef.
Gesels in die banke:
Hoekom is dit belangrik dat ons die aarde oppas en hoe kan ons dit (beter) doen?
10 “groen” uitdagings van die week en vertel vir mekaar watter een jy gekies het (vertoon op skerm of druk dit in die bulletin)
- Gebruik geen enkel-gebruik plastiek nie
- Herwin papier, glas en plastiek
- Eet een dag lank geen vleis nie
- Moenie water koop nie, gebruik jou eie waterbottel
- As jy koffie koop, bring jou eie beker of fles
- Gaan stap en tel rommel op soos julle stap
- Besluit om iewers heen te stap eerder as te ry
- Plant ‘n boom of groente
- Kyk ‘n ekologie fliek of dokumentêr saam
- Skenk ‘n kombers of dierekos aan ‘n plaaslike dierebeskermingsvereniging
Gebed:
Here, dankie dat U by ons is in al die seisoene van ons lewe. In die winter, wanneer ons moedeloos en koud voel en in die somer wanneer ons opgeruimd en warm voel. In die herfs wanneer U u beloftes in ons lewens plant en in die lente wanneer hierdie beloftes ontkiem en nuwe lewe bring. Help ons om soos wat U vir ons sorg, ook vir mekaar en die aarde te sorg. Amen
Wenke en idees
Lentedag
KIX Kinderbediening gaan tuin toe en gee idees om ‘n voëltjie voerbottel en ‘n badjie vir bye te maak.
Dit is hier in Afrikaans en Engels beskikbaar.
Bybelsondag