Erediens: FamiliediensErediens: Kindermoment

Wenk van die Week 28.11.2021 1ste Advent (Hoop) / 16 dae van aktivisme

By Nov 22, 2021 No Comments

Hierdie week kan daar gekies word tussen ‘n fokus op Advent (Verwagting) of 16 Dae van aktivisme teen geweld teen kinders en vroue.

Opsie 1: Advent: Verwagting
Gebruik ‘n boksie Smarties en sit dit neer in die liturgiese ruimte net voordat jy met die les begin. Begin gesels oor Desember en hoe ons gesond moet eet en geen sjokolades moet eet nie.

Vra vir die kinders: Wat dink julle gaan ons vandag met die Smarties doen? (skep ‘n verwagting)

Sê: Ek het nou ‘n groot fout gemaak, want ek het nou by julle ‘n verwagting geskep. Julle sien nou uit na die Smarties wat julle dink julle gaan eet. Maar, ons het nou-net vir mekaar gesê ons moet gesond eet en na ons liggame kyk, sodat ons lekker vakansie kan hou Desember. Nou wat nou? (Gee kans vir reaksie)

Ek dink ons moet maar ‘n speletjie maak hiervan. Het julle geweet dat God al in die Ou Testament ‘n verwagting by mense geskep het oor Jesus wat sou aarde toe kom? Dit is wat ons vandag in Jeremia 33:14-16 lees. En die mense het baie lank uitgesien na Jesus se koms. Hoe lank dink julle is baie lank?

Net so, sien ons ook uit na Kersfees. Waarna sien julle die meeste uit vir Kersfees? (Gee kans vir gesinne om met mekaar te deel of kinders om te antwoord). Ek gaan nou vir elkeen ‘n Smartie gee en wanneer jy een van die kleure kry, moet jy die vraag antwoord:

  • Groen: Wanneer slaan julle julle Kersboom op?
  • Blou: Watter kos eet julle met Kersfees?
  • Geel: Wie vier saam met julle kersfees?
  • Oranje: Waarna sien jy glad nie uit vir Kersfees nie?
  • Pers: Hoe lank dink jy is dit nog voor Kersfees?
  • Pienk: Wat dink jy gaan jy vir Kersfees kry?
  • Bruin: Wat vier ons eintlik met Kersfees?

Pas gerus die vrae aan om by jou konteks te pas

Opsie 2: 16 Dae van aktivisme teen geweld teen kinders en vroue
Ons het gister begin met die 16 dae veldtog waar ons sê: “Nee, moenie ons vroue en kinders seermaak nie!”. (Laat die kinders dit saam met jou sê).

Vir die volgende 16 dae gaan ons elke dag vir vroue en kinders bid wat deur ander mense seergemaak word en ons gaan hard daaraan werk om ook vir die wêreld te sê: “Nee, moenie ons vroue en kinders seermaak nie!”.

Vir die volgende 16 dae kan julle hierdie gebed bid:

Gebedsvoorstel

Here, help ons om ons maats en vroue te help wat seergemaak word deur ander mense. Ons weet dat U vir hulle elkeen lief is en hulle graag wil beskerm, ons wil U hiermee help. Maak ons dapper om vir iemand te sê wanneer ons agterkom dat daar mense is wat seerkry. Amen.

Bewusmaking: Thursdays in Black
Vertel vir die gemeente van Thursdays in Black en dat elke Donderdag die geleentheid is om op te staan teen geweld teen vroue en kinders (maar ook geweld oor die algemeen).

Deur Thursdays in Black te ondersteun, staan ons:

  • In protes teen sisteme en samelewings wat geweld van enige vorm aanmoedig
  • In solidariteit met 1 uit 4 vroue wat geweld in hulle lewens ervaar
  • Hartseer saam met mans, vroue en kinders wat seergemaak word en selfs doodgaan a.g.v. seksuele geweld
  • Vir bewusmaking en inligting rondom die uitdagings van geslagsgebaseerde geweld
  • In die hoop dat ‘n ander realiteit moontlik is.

Gebed

(Charlene vd Walt opgeneem in Woord & Fees 2013-2014, uitgegee deur BM)

Skeppergod, U skep die aarde en alles daarop.
U skep alles in verhouding tot mekaar en U skep alles goed.
U skep man en vrou na u beeld en seën beide.
Help ons om u beeld te sien in hulle wat ly as slagoffers van geweld.
Help ons om die gesig van geweld te herken in ons midde veral as dit ’n gewoon-alledaagse masker dra.
Help ons om geweld teen te staan
en om slagoffers van geweld met menswaardigheid te hanteer.
Help ons om te besef dat ons na u beeld geskep is.
Help ons om in Jesus se voorbeeld te volg en om telkens te soek vir lewegewende alternatiewe tot geweld.
Help ons om geweld te beveg in die MIV en vigs-era
omdat dit voorkoming belemmer en effektiewe behandeling teenstaan.
Ons bid dit met vrymoedigheid in die naam van Jesus Christus.
Amen.

Gesels met mekaar:
Wat is geslagsgebaseerde geweld en hoekom moet daar 16 dae wees wat ons daarop fokus?

Maak plakkate wat julle in die kerk kan opsit om te sê julle gemeente sien alle mense gelyk, maak nie mekaar seer nie en hoop op ‘n beter toekoms. Jy kan selfs vir elke gesin ‘n spesifieke protes “slogan” gee wat fokus op die waardes wat julle as gemeente wil uitleef.

Ekstra hulpmiddels

https://www.streetdirectory.com/travel_guide/199725/christmas/christmas_expectations.html

https://www.preachersmagazine.org/a-pause-advent-with-children/

https://club31women.com/25-advent-books-children/

 

https://www.thursdaysinblack.co.za/ 

Leave a Reply

en_ZAEnglish