Skip to main content
Erediens: KerkjaarVakansie- en spesiale dae

Oujaar, Nuwejaar!

By January 5, 2022March 30th, 2022No Comments

Intergenerasionele erediens wenk

Tema: Oujaar, Nuwejaar!

Nuwejaarsvoornemens

Dis net na Kerstyd, die tussen-tyd tussen Kersfees en Nuwejaar. Dit is daardie tyd van die jaar wat almal ook in die spieël kyk en dink wat hulle graag anders wil doen in hulle lewe. Dikwels maak mense ook nuwejaarsvoornemens – beloftes aan hulself oor dinge wat hulle wil verander of aanpak in die volgende jaar. Dalk is dit om iets op te hou doen, of iets nuut aan te pak. Die gewildste nuwejaarsvoornemens is om fikser te word, meer gesond te eet, meer spaarsamig te leef, meer tyd met familie / vriende te spandeer en om minder tyd op jou foon / skerm te spandeer (sien aangehegte PowerPoint).

Laat die gemeente gesels oor nuwejaarsvoornemens en kry bietjie terugvoer. (Moenie hier ‘n waarde-oordeel maak nie, die punt hiervan is deelname en nie ‘n regte / verkeerde antwoord nie).

Maak nou die punt dat God op ons lewensreis is, en dat Hy as Koning gebore is om ook in ons lewens te heers. Daarom is dit ook goed om te dink / gesels oor hoe die Here deel was van ons reis die afgelope jaar en ook ons vooruitgaan in die jaar wat kom.

Aktiwiteit 1: Gesprekskaart oor die ou jaar / nuwe jaar

Rol die uitdeelstuk vooraf af en deel dit met ‘n pen uit sodat almal in die diens dit kan invul. Dit kan ook elektronies uitgestuur word. Laat die gemeente dan in klein groepies hulle antwoorde deel:

  • Wat was die hoogtepunte van die afgelope jaar?
  • Wat was die laagtepunte / uitdagings?
  • Waar het ek die Here raakgesien of ervaar die afgelope jaar?
  • Waaroor is ek dankbaar?
  • Wat is my planne / drome vir die nuwe jaar?
  • Waarvoor wil ek/ons bid?
  • Watter gewoontes kan my/ons help om geestelik te groei in die nuwe jaar?

Een van die gewoontes wat ons help om saam te groei is huisgeloof. Wys hulle gerus op die DinkJeug Families App wat gratis afgelaai kan word en wat elke familie kan help om sinvol te gesels oor die Bybel en geloof vir ‘n paar minute per dag. Die skakels om die app af te laai is hier:
Google Play
Apple iStore

Aktiwiteit 2: Doop-herinnering

Prakties: Dit is dalk moeilik om ‘n fisiese doop-herinnering met water met elkeen te doen in die erediens. Dit is wel moontlik met ‘n uitsaaidiens waar almal tuis ‘n bakkie water byderhand hou en dan met die water op hulle hand / voorkop ‘n kruisie trek. ‘n Alternatief is dat jy by die doopvont kan staan en gesels. Vra daarna vir almal om ‘n (onsigbare) kruisie op hulle eie handpalm te trek (met ‘n vinger). Ouers sou dit met kinders kon doen.

Inhoud: Verbind die doop aan God se liefde, trou en nabyheid. Die doop is ‘n herinnering dat God Homself aan ons verbind het deur Christus en die Gees – dit is beide ons troos (ook in moeilike tye) en ons hoop (ook vir die jaar wat kom). As ons terugkyk oor die afgelope jaar, kan ons met dankbaarheid getuig dat God by ons was. En as ons vorentoe kyk na die jaar wat kom, kan ons aan dié belofte vashou.

Leave a Reply