Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Gebedsaksies, die pelgrimstog en labirint
Hierdie week gaan oor hoe ons kan bid met ons lyf, met ander woorde, verskillende gebedshoudings en hoe dit ons kan help om uitdrukking te gee aan verskillende emosies.
Ons kan ook leer uit die tradisies van die vroeë kerk, byvoorbeeld die waarde van pelgrimstogte en die labirint stap.
Hulpmiddels: Foto’s van pelgrims op ‘n pelgrimstog en ‘n labirint om te vertoon op die skerm. Die skakel van ‘n vinger labirint wat aangestuur kan word (of uitgedruk kan word) – daar is 2 opsies onderaan.
Gesels saam
Hoekom dink jy doen ons die volgende dinge as ons bid/aanbid?
- Hande vat met ander
- Handpalms teen mekaar vou
- Steek ons arms na bo
- Hou ons palms oop voor ons
- Kniel
- Maak ons oë toe
- Sê met ons mond “Amen”
Bid en stap
Vertel hoe pelgrimstogte ontstaan het in die Middeleeue en hoe die pelgrims in eenvoud gestap het (bv. die Camino de Santiago pelgrimsroete in Spanje). Hierdie pelgrims stap nie net nie, maar hulle bid terwyl hulle stap. Hulle dink aan dinge wat hulle moet agterlaat en fokus op God se teenwoordigheid op hulle reis. Hierdie pelgrimstogte is soms swaar en saans is die reisigers se spiere baie seer en moeg, maar hulle word gevul met krag, hulle geloof groei en hulle ervaar op ‘n vreemde manier Jesus se liefde waar hulle langs die pad ontvang word.
Die SA pelgrimstog
Het jy geweet Suid-Afrika het ook ‘n pelgrimsroete – die Pelgrimstog van Hoop in die Wes-Kaap? Daar is selfs ‘n televisiereeks daaroor gemaak! Kyk na die volgende artikel en videogreep daarvan:
Plaaslike pelgrimstog is gulde geleentheid vir binnewerk, meen stap-fundi
Gespreksvraag: Wat dink jy is anders as ‘n mens stap terwyl jy bid?
Uitdaging: Gaan stap hierdie week en bid terwyl jy stap. Gesels daarna oor hoe dit anders is as om toe oë te bid?
Aktiwiteit: ‘n Labirint
Een van die maniere om te stap en bid – sonder om op ‘n reis te gaan – is ‘n sirkelvormige gebedsroete – ‘n labirint. Dit het ook in die vroeë kerk onstaan. ‘n Labirint lyk soos ‘n “maze” of doolhof, maar dit is glad nie dieselfde nie, want jy kan nie wegraak nie. Daar is net een paadjie in en weer uit wat jy volg. ‘n Mens kan ‘n labirint in ‘n tuin uitpak met klippe of met kalk afmerk. Dalk kan julle as familie dit aanpak. Maar hier is solank ‘n mini-weergawe – ‘n vinger-labirint wat julle kan uitdruk of op julle selfone vertoon en gebruik om mee te bid.