Skip to main content
Erediens: Kerkjaar

Pinksterfees erediens wenk

By June 14, 2021May 15th, 2023No Comments

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Pinksterfees – die verjaarsdag van die Kerk!

Vandag vier gemeentes dwarsoor die wêreld Pinksterfees – die herdenking van die uitstorting van die Heilige Gees. Verwys na die wenk oor Pinkstertyd (simbole) as jy meer wil vertel van die betekenis en simbole van Pinkster.

Hulpmiddels: Dek ‘n partytjie tafel met koek, kersies, ballonne en geskenke. Dalk wil julle oorweeg om ‘n kolwyntjie vir elkeen te gee na afloop van die erediens.

Verjaarsdae
Almal wat verjaar het (oud en jonk) kom na vore, die gemeente sing veels geluk en hul ontvang ‘n kaartjie.

Gesels met mekaar: Wat was jou lekkerste verjaarsdag nog?

Wie kan raai wie ook vandag verjaar…die kerk!! 

  • Vandag vier ons ‘n baie spesiale verjaarsdag – die kerk se verjaarsdag. Die Christelike kerk is ongeveer 2000 jaar oud.
  • Nie hierdie kerkgebou nie, maar al die kerke in die wêreld.
  • Ons noem dit Pinksterdag en dit is wanneer ons die dag onthou toe God die Heilige Gees na sy mense gestuur het om hulle te lei as sy dissipels soos wat Jesus belowe het Hy sou doen.

Die kerk is ongeveer 2000 jaar oud – nie hierdie kerkgebou nie, maar die kerk (Christene) dwarsoor die wêreld. Die dag toe die Gees uitgestort is, het gewone gelowiges die opdrag gekry en die Gees ontvang om uit te gaan in die wêreld en die evangelie te gaan deel. Gelowiges het ook begin bymekaar kom om mekaar te ondersteun, die woord te lees, te sing en te bid. Daarom word Pinkster ook as die geboortedag van die kerk beskou en vier ons vandag die kerk se verjaarsdag.

Partytjie tyd (dek vooraf ‘n partytjie tafel)
Die dinge wat ons help om partytjie te vier, kan ons help om te onthou wat met Jesus se kerk op Pinksterdag gebeur het en hoe die Heilige Gees vandag nog in sy kerk werk.

  • Ballonne: Dis altyd lekker om ballonne by ‘n verjaarsdag partytjie te hê, maar die ballonne is sommer pap en leweloos, hulle moet mos eers met lug gevul word. Die Bybel vertel dat baie van Jesus se volgelinge saam in een plek op Pinksterdag was. Ewe skielik het hulle ‘n groot geraas gehoor soos wind wat baie erg waai. Die wind het in die kamer waar hulle gesit het, ingewaai en die hele kamer vol gemaak. En net soos wat ons ballonne vol asem blaas om dit bietjie lewe te gee, so is ons ook hier bymekaar sodat die Heilige Gees sy kerk (mense) vol van sy asem kan maak sodat ons nuwe lewe kan hê.
  • Koek vol kersies: (Steek kersie aan.) Die vlamme van die kersies help ons om te onthou dat vuurtonge op Pinksterdag op mense se koppe neergedaal het. Toe dit gebeur het, was die mense bang, maar die Heilige Gees het hulle krag gegee om in klomp tale te praat en vir ander te gaan vertel wat gebeur het. Die Heilige Gees gee ons vandag ook krag om uit te gaan en vir ander van Jesus te vertel met ons woorde en met die manier hoe ons lewe.
  • Geskenke: Die Heilige Gees het vir ons geskenke gegee van vergifnis, waarheid en nuwe lewe om met ander mense te deel (of ‘n mens kan verwys na die gawes van die Gees).

Kom ons sing…. “Veels geluk liewe kerk…”  (sing dit saam as gemeente!)

Seën: Kom ons steek die Christus Kers aan as simbool van Jesus se Gees wat ook vandag reeds hier teenwoordig is en in en deur ons leef. Kom ons seën mekaar met die woorde (laat die gemeente agter jou aan herhaal terwyl hulle hande op mekaar sit in familieverband)

Die Gees woon binne-in jou
Die Gees werk deur jou
Die Gees is altyd by jou

Die Gees gee jou krag
Die Gees gee jou woorde
Die Gees gee jou wysheid

Die Gees is ALTYD by jou!    
Amen

 

Video: God stuur die Heilige Gees

Leave a Reply