Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Epifanie (groei) en Bybel lees
Aan die begin van die jaar dink ons gewoonlik aan die gewoontes wat ons wil afleer / aanleer om gesonder te leef of te groei. Sluit aan by die simboliese kleur van Epifanie (groen) en gesels oor gewoontes wat ons help om te groei.
Maak vooraf ‘n uitstalling vir Epifanie en verduideik die betekenis van die simbole:
- Groen en wit lappe (simboliese kleure)
- Groen takke (groei)
- Die jaartal 20xx (Jesus se aardse teenwoordigheid, ook in dié jaar)
- Betlehem ster (Jesus se menswording en kinderdae)
- ‘n Bakkie water (Jesus se doop)
- ‘n Lampie (Jesus is die lig op ons pad)
Epifanie se kleur is groen vir groei
Ons herdenk tans die kerkjaar seisoen Epifanie waar ons dink aan Jesus wat mens geword het. Jesus het tussen ons kom woon en vir ons gewys hoe om te lewe en ander te dien. Ons dink aan die begin van die jaar gewoonlik aan gewoontes om ons fisies en emosioneel gesond te hou, maar ons kan ook dink aan dié dinge wat ons help om geestelik te groei. Die kerkjaar seisoen Epifanie se simboliese kleur groen herinner ons aan groei en lewe. Net soos ‘n plant, moet ons ook gesond bly van binne en buite.
Gesels met mekaar… kies een van hierdie vrae
- Hoe wil jy hierdie jaar groei of dalk iets nuut begin doen (dalk ‘n geloofsgewoonte)?
- Hoekom lees ons/jy Bybel? Hoe doen jy dit?
Gebed:
Bid vir almal wat siek is of swaarkry. Bid vir gesondheidspersoneel. Bid vir mekaar om hierdie jaar te groei en te floreer!