Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Menseregtedag
Vandag se intergenerasionele wenk gaan oor die viering van Menseregtedag (21 Maart). Gebruik ‘n beker WATER en ‘n glas en ‘n bakkie SOUT of iets sout te ete soos ‘n soutkoekie as hulpmiddels.
Gesels: Vertel vir mekaar watter vakansiedag ons vandag vier en hoekom?
Op 21 Maart vier ons Menseregtedag – ‘n nasionale vakansiedag wat Suid-Afrikaners herinner aan die opofferings wat gepaard gegaan het met die stryd vir die bereiking van demokrasie in Suid-Afrika. (Meer hieroor by https://www.gov.za/human-rights-day#)
Op Menseregtedag kan ons as gelowiges onthou dat ons geroep word om, soos Jesus, alle mense met dieselfde liefde, respek en aanvaarding te hanteer. En ons word geroep om die wêreld ‘n beter plek te maak vir alle mense.
PROE VAN DIE SOUT / SOUTKOEKIES
As kinders van God maak die Woord ons dors vir geregtigheid en vrede vir almal (soos hierdie sout ons dors maak).
DRINK VAN DIE WATER
En die Gees vul ons (soos die water die glas vul en ons dit drink) met die begeerte en dapperheid om in gehoorsaamheid daarna te streef (jy kan ook na Amos 5:24 en Miga 6:8 verwys).
Gesels:
Watter dinge droom jy oor vir ons gemeenskap – om dit ‘n plek te maak waar almal vreugde, geregtigheid en vrede kan beleef?
Bid: (Seën mekaar)
Mag God jou ‘n dors gee vir geregtigheid en vrede
En jou vul met die lewende water van sy Gees