Skip to main content

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: 200 jaar herdenking van die Sinode

Hierdie Sondag vier ons die 200 jarige herdenking van die eerste sinode vergadering wat op 2 November 1824 gehou is. Dit is ‘n ideale geleentheid om te gesels oor die groter kerkverband (kerkfamilie) waarvan julle gemeente ook deel is.

Gebruik die uitdeelstuk – rol dit vir elke kind af om in te kleur en in te vul terwyl jy gesels. Ons Sinode Familie – Kerkwees 200 uitdeelstuk

Vertel die storie
Die eerste gemeente in Kaapstad is kort na Jan van Riebeeck se koms gestig en die eerste nagmaal is in April 1652 gehou. Die gemeente se ontstaansdatum is Augustus 1665. Die eerste kerkgebou is in 1704 ingewy. Soos wat die koloniste versprei het in die Kaap, is nog dorpe en gevolglik nog gemeentes gevestig.

Dit is 200 jaar gelede wat die eerste vergadering van “Het sinode der Nederduitse Gereformeerde Kerk” op 2 November 1824 in Kaapstad gehou is. Die eerste 14 gemeentes van Suid-Afrika het bymekaar gekom en hulle verbintenis aan mekaar gevier.

Die eerste 14 gemeentes was:

  • Kaapstad 1665
  • Stellenbosch 1686
  • Drakenstein 1691
  • Tulbagh 1743
  • Zwartland 1745
  • Graaff-Reinet 1792
  • Swellendam 1798
  • Caledon 1811
  • George 1813
  • Uitenhage 1817
  • Cradock 1818
  • Beaufort-Wes 1819
  • Somerset-Wes 1819
  • Worcester 1821

Wat is ‘n sinode?
Die woord sinode beteken vergadering of byeenkoms van kerkleiers, maar dit kom van die Griekse stamwoorde sun (saam) en hodos (pad). Sinodes is soos ‘n groot kerkfamilie, en sinode vergaderings is byeenkomste waar ons ons pad saam met mekaar en die Here vier.

Die Kaapse Sinode was 200 jaar gelede die enigste sinode in die land. Vandag is ons 1 162 NG Gemeentes in tien streek sinodes versamel en deel van een Algemene Sinode in Suid-Afrika. Die kerk het ook uitgebrei as gevolg van sendingwerk en vandag is daar ook groot gereformeerde kerke in buurlande soos Namibië, Zimbabwe, Zambië, Malawi, Swaziland, Botswana, en Mosambiek, elk met hulle eie sinodes! Dis sowaar ‘n baie groot en uitgebreide familie om te vier!

Ons eie gemeente
Vertel hoe oud julle gemeente is en 2 of 3 interessanthede vanuit die geskiedenis.

Gespreksvraag in die banke:

  1. Vertel van ‘n familie byeenkoms of saamtrek waar jy was.
  2. Wat beteken dit vir jou dat ons deel is van die NG Kerk familie (sinode)?

Simboliese aktiwiteit – Laat ‘n kind ‘n kaartjie of blom oorhandig aan die oudste lidmaat wat hulle lewe lank deel is van die gemeente.

Gebed:
Heilige God
Dankie dat U ons bymekaar bring om na u wil te soek.
Gee vir ons ore om die Vader se stem uit die Woord te hoor.
Gee vir ons oë om vir Jesus in mekaar te sien.
Seën ons met wysheid om die regte keuses te maak. Wys ons wat U graag soek in hierdie wêreld en hoe ons as die mense van die NG Kerk u wil kan laat geskied en dat u koninkryk kan kom.
In u heilige naam
Amen

Kerkwees 200 Video (7 min): 

 

Volledige eredens liturgiese voorstel: https://kaapkerk.co.za/wp-content/uploads/2024/10/2024-10-04-Gesamentlike-viering-van-Hervormingsondag-finaal.docx

 

Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.

Leave a Reply