Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Verjaarsdae
Vandag se intergenerasionele wenk gaan oor die viering van verjaarsdae.
Inleiding
Gebruik ‘n koek of kolwyntjies met kersies en kry ‘n lys name van almal wat die afgelope week/maand verjaar het in die gemeente.
Wat kan nou lekkerder wees as om te verjaar! Het jy al ooit daaraan gedink hoekom ons verjaarsdae vier met ‘n lekker verjaarsdagkoek en kersies? Mense het al in die middeleeue ‘n tipe spesiale ronde brood gebak om kinders se verjaarsdae te vier. Dit het oor die eeue soeter geword en in die 1700’s het die Duitsers begin om dit met blomme en versiersuiker te versier en ‘n kers daarop te plaas as simbool van die “lig van die lewe”.
Gesels met mekaar in die banke:
Watter verjaarsdag tradisies het julle of wat is jou lekkerste verjaarsdag herinnering?
Geloofsmomente
Wanneer ons in ‘n hoogtepunt, soos verjaarsdae of herdenkings, erkenning gee aan God se betrokkenheid in ons lewens, verander ons dit ook in ‘n geloofsmoment of geloofsmylpaal. Dit beteken dat dit ook ‘n geleentheid raak om geestelik met mekaar daaroor te gesels en/of vir mekaar te bid.
Ware verhaal (of vertel jou eie verhaal)
In die Engelbrecht familie, wanneer jy verjaar, mag jy nie die oggend self wakker word nie. Jy moet wag totdat die res van die gesin jou kom wakker maak – met ’n verjaarsdagkoek en geskenke. Die kind wat verjaar is dikwels so opgewonde dat hulle, met hulle oë toe, lê en wag en maak asof hulle slaap! Nadat die geskenke oopgemaak is, nog voor ontbyt, maak die hele familie gou eers ‘n kringetjie om die familielid wat verjaar om sy/haar lewe te vier. Hulle neem beurte om vir die een wat verjaar ‘n kompliment te gee en daarna vir hom/haar te bid. Die een wat verjaar voel dan só spesiaal en geliefd. Daarna gaan eet hulle lekker saam koek – sommer vir ontbyt!
Gebed
Nooi almal vorentoe wat die afgelope week of maand verjaar het om ‘n kersie aan te steek. Bid daarna vir hulle. Julle sou ook vir elkeen ‘n kolwyntjie of lekkertjie kon uitdeel.
Moedig huishoudings aan om voortaan ook op hierdie wyse tuis verjaarsdae te vier en vir mekaar te bid.
Nog wenke vir families om verjaarsdae te vier: https://dinkjeug.co.za/verjaarsdae-doen-idees-vir-families/