Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Diensbaarheid (geloofsgewoontes reeks)
Ons tema hierdie Sondag is diensbaarheid.
Toebroodjie illustrasie
Reël vooraf met ‘n gesin om jou te help in die erediens. Gee vir hulle die opdrag om saam ‘n toebroodjie te maak. Elke gesinslid moet egter ‘n uitdaging hê: een word geblinddoek, een mag net praat maar nie hande gebruik nie, ‘n ander een mag net sy/haar linkerhand gebruik, ‘n ander een mag NET opdragte van die een wat geblinddoek is, so stiptelik moontlik probeer uitvoer. Gesels na die tyd oor hul ervaring en vra vir die gemeente oor wat hierdie speletjie vir jul van diensbaarheid geleer het.
Diensbaarheid
Verduidelik dat Jesus kom wys het hoe ‘n omgekeerde tipe leierskap lyk – om “eerste” te wees beteken om nederig ander te dien. Dit beteken dat jy nie net aan jouself dink nie, maar ook aan ander en mekaar help en ondersteun.
Reënboog gebed
‘n Reënboog bring hoop en help ons onthou dat God vir ons sorg. Gebruik die kleure van die reënboog om saam in die erediens te bid, asook tuis. Soek iets in elkeen van die volgende kleure om vir elk van die volgende sake te bid:
ROOI – Dankie vir Jesus se liefde vir ons
ORANJE – Ons bid vir diensbaarheid, geduld en nederigheid
GEEL – Help elkeen wat bang of alleen voel
GROEN – Ons bid vir siek mense en mense wat versorg moet word
BLOU – Ons bid vir gesondheidswerkers – dokters, verpleegsters en noodpersoneel
PERS – Ons stel ons vertroue in God, ons Koning, wat vir ons sorg
PIENK – Ons bid vir veiligheid en gesondheid