Skip to main content
Vieringe

Eksamentyd

By November 8, 2021April 1st, 2022No Comments

Intergenerasionele erediens wenk

Tema: Eksamentyd 

Emosie-speletjie
Ek gaan een woord sê, dan moet julle die eerste gedagte/ gevoel wat by jou opkom, noem (laat hulle telkens na elke woord eers noem wat by hulle opkom – kry antwoorde by kinders en volwassenes)

  • Skool
  • Onderwyser
  • Huiswerk
  • Assessering
  • Eksamen
  • Mondeling

‘n Klomp van dié woorde laat ons aan stres en spanning dink, nè? Nie almal ervaar eksamentyd as ‘n moeilike tyd nie, maar die meeste stres wel daaroor. Stres of spanning is ‘n normale deel van die lewe. Elke gelowige gaan deur moeilike, stresvolle tye – ons kan nie wegkom daarvan af nie. Ook volwassenes ervaar spanning. Net omdat ons in Christus glo, beteken nie ons lewens gaan elke dag goed gaan of perfek wees nie. Maar ons kan in hierdie tyd 3 dinge doen: (1) bid en ons gevoelens met God deel, (2) ons beste gee en vertrou dat Hy ons help en (3) mekaar ondersteun deur sulke tye.

Ondersteun en bid vir die jeug tydens eksamens
Deel die kinders in by ouer lidmate (nie hulle ouers nie) en laat hulle deel wanneer hulle eksamen skryf en hoe hulle voel. Laat die ouer lidmate vir die jongmense bid. Jy sou ook kon oorweeg dat ouer lidmate en jongmense selfoonnommers uitruil, sodat die ouer lidmate vir die jeug kan aanhou bid en ondersteun. Of gebruik die uitdeelstuk.  

Ekstra hulpmiddels

‘n Gebed vir Skoliere uit die Gebedeboek met liturgiese voorstelle (Oos-Kaap)
Outeur: Johannes Calvyn (1509 -1564)

O Here, U is die bron van alle wysheid en kennis.  Dankie dat U vir my, terwyl ek nog jonk is, die kans gee om te leer hoe om ‘n heilige en eerbare lewe te lei.  Maak my verstand helder, sodat ek sal verstaan wat ek in die skool leer.

Here, U beloof dat u wysheid en kennis sal gee aan dié wat aan U behoort en nederig en gehoorsaam voor U is;  en U wil niks te doen hê met dié wat trots is en so baie van hulleself dink nie.  Daarom vra ek, Here, dat U my sal help om nederig te bly, sodat ek sal kan aandag gee en leer.  Dan sal ek ook gehoorsaam wees – aan U, en aan my onderwysers en my ouers.

Gee asseblief ook, Here, dat ek alle lelike gedagtes en begeertes opsy sal skuif.  Ek wil graag net na U luister, en my voorberei om U eendag te dien op die plek waar U my wil gebruik.

Leave a Reply