Intergenerasionele erediens wenk
Tema: “Voor en na” – Lydenstyd is ‘n tyd van introspeksie
Dit is die vierde Sondag in Lydenstyd en jy kan weer die simboliek van Lydenstyd uitpak sowel as ‘n vierde kers van die sewekandelaar uitblaas. Gesels vandag oor hoekom Lydenstyd ‘n tyd van introspeksie en vernuwing is vir gelowiges.
“Voor en na” foto’s
Hulpmiddels – Gebruik “voor en na” foto’s wat “gedokter” is om beter te lyk, soos byvoorbeeld van sekere tandepasta advertensies of “make-overs”. Of gebruik hierdie PowerPoint.
Julle moes al iewers ander weergawes van before and after foto’s gesien het soos die tandepasta advertensie, waar iemand se tande sommer skielik ook reguit en sonder gate is, nadat hulle dié spesifieke tandepasta gebruik het. Dalk adverteer die foto’s ‘n gewigsverlies program, of is dit ‘n program op TV van ‘n huis wat vernuwe word. Sommige van hierdie stelle foto’s kan jy sommer van ver af sien is ‘n fake. Ander is inspirerende foto’s of verhale van mense wat hard gewerk het om ‘n verandering in hul lewens te maak.
Lydenstyd is ‘n tyd vir introspeksie
In Lydenstyd dink ons aan Jesus se lyding en hoe hy vir ons nuwe lewe skenk. Hierdie lewe is egter ‘n geskenk en nie iets waarvoor ons kan werk nie. Uit genade is ons gered! Ons word nie meer beheer deur ons sondige begeertes nie, maar is vrygemaak. Maar ons after foto’s is nie perfek nie – ons verander en leer oor tyd wat dit beteken om gehoorsaam aan God te lewe. Ons almal bly ‘n work in progress. En Lydenstyd is ‘n tyd vir introspeksie waar ons kyk waar ons kan vernuwe of groei. Die woord introspeksie is soos om in ‘n spieël te kyk – nie na jou buitekant nie, maar na jou binnekant.
Gesels – Watter gewoontes het jy aangeleer in die afgelope tyd wat jy aan moet vashou en watter gewoontes moet jy weer afleer? Gee ‘n paar voorbeelde en laat almal dan in families of in groepies daaroor gesels.
Gebed – Bid dat ons in hierdie Lydenstyd opnuut sal kyk na hoe ons kan aflê dit wat ons moet nalaat en optel en saamneem dit wat ons meer van moet doen of word.