Erediens: Familiediens

Wenk van die Week 14.02.2021 Valentynsdag

By Jun 14, 2021 No Comments

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Harte wat skyn met liefde

Leesrooster teks: 2 Korintiërs 4:3-6

Sluit in die erediens aan by Valentynsdag (liefde en harte), die teks (2 Kor. 4:6 “…so het Hy ook in ons harte ’n lig laat skyn…”) asook die eerste skooldag wat voorlê. Gebruik gekleurde harte en ’n speletjie om gesprek te ontlok (dit kan ook aanlyn werk). Dit is ook Sondag Biddag vir Opvoeding en Onderwys.

Valentynsdag
Vandag vier baie mense Valentynsdag – waar hulle hulle liefde vir ander mense verklaar. Dalk beplan julle ook om dit te vier en ’n kaartjie of boodskap vir iemand te stuur? As gelowiges, weet ons dat liefde nie net gaan oor romantiese liefde nie, maar oor veel meer. God wys vir ons deur Jesus dat ons ander mense, ongeag wie hulle is, ook moet liefhê. Jesus skyn ’n lig in ons harte, sodat ander deur ons liefde, omgee, vriendelikheid en diensbare dade kan sien wie God is.

Terug skool toe
Hierdie week gaan julle terug skool toe. Dalk sien jy uit om jou maats te sien? Daar is sommige wat dalk na ’n nuwe skool gaan of wat koshuis toe gaan. Dalk is jy ’n bietjie bekommerd of bang oor of dit vir jou lekker gaan wees.

God se liefde
God wil jou herinner dat Hy vir jou baie lief is en dat Hy ook saam met jou gaan. Hy sal jou ook help om lief te wees (om om te gee en ‘n goeie maat te wees) vir ander mense. Hy vul ons harte met liefde, sodat ons vriendelik kan wees en sy lig kan laat skyn.

Harte gesprek speletjie (hiervoor is daar ook ‘n PowerPoint beskikbaar)
Maak vooraf ’n rooi, oranje, geel, groen en blou hart en hang dit agter jou op. Vra vir elkeen wat na jou uitsending kyk om ’n kleur te kies (rooi, oranje, geel, groen of blou). Vertoon daarna op die skerm (of lees) die vraag wat by elke kleur pas. Elkeen moet die vraag beantwoord wat by die kleur pas wat hulle vooraf gekies het. Hulle vertel dan aan mekaar die antwoorde (in gesinsverband) deur die preekvideo te pause.

  • Rooi hart – watter vriende sien jy uit om weer te sien?
  • Oranje hart – hoe kan jy hierdie week ‘n vreemdeling laat welkom voel?
  • Geel hart – vertel van iemand wat vriendelik was met jou die afgelope week?
  • Groen hart – op watter manier kan jy liefde wys sonder woorde, net met dade?
  • Blou hart – waaroor is jy bekommerd of bang vir 2021?

Bid
Dit is vandag Biddag vir Opvoeding en Onderwys. Bid vir kinders en tieners wat terugkeer skool (en koshuis) toe. Ook vir die wat vir die eerste keer skool toe gaan of hoërskool toe gaan, of leerlinge wat met ’n nuwe skool begin. Bid ook vir onderwysers en ouers wat dalk onseker is oor wat die jaar mag inhou. Hier is ‘n PowerPoint hulpbron: Biddag vir onderwys

 

Wenke en Idees
Idees vir Valentynsdag om met ouers te deel:

Hierdie kort animasie video vertel vir kinders waar Valentynsdag vandaan kom:


 

Leave a Reply

en_ZAEnglish