Skip to main content
BiddaeVakansie- en spesiale dae

Biddag Jeug en Kategese

By June 14, 2021March 31st, 2022No Comments

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Staan in die skoene van kinders

Hierdie week vier ons Jeugdag (16 Junie) en dit is ook Biddag vir Jeug en Kategese. Gebruik die geleentheid om verskillende kinders in die gemeente aan ouer lidmate voor te stel met die boodskap dat God al sy kinders liefhet en seën, al lyk hulle verskillend en al het hulle verskillende persoonlikhede en talente.

Hulpmiddels: kaartjies, penne en ‘n paar klein plakkies (sowel as verlede week se Koninkrykstyd simbole bv. kroon, aardbol en ‘n paar plakkies)

*Reël vooraf: Laat kinders en tieners – soos hulle by die erediens inkom – ‘n kaartjie en pen ontvang. Hulle vul elkeen ‘n kaartjie in met hulle naam en waarvan hulle hou, hulle sterkpunte sowel as ‘n gebedsversoek (ouers kan kleiner kinders hiermee help). Hier is ‘n voorbeeld van ‘n kaartjie om te gebruik: https://dinkjeug.co.za/wp-content/uploads/2021/06/Biddag-Jeug-en-Kategese-erediens.pdf

Koninkrykstyd aansluiting
Herinner almal weer waaroor Koninkrykstyd gaan met van die simbole van verlede week – ons vier Jesus se heerskappy in die wêreld (kroon) en ons word as dissipels (plakkies) uitgestuur na die wêreld (aardbol).

Kinders as dissipels (koning-kinders)
Maar hierdie sandale/plakkies is nie net ‘n simbool van dissipels wat grootmense of predikante is nie. Dié sandale verteenwoordig alle mense… ook jongmense en kinders! God het elkeen lief en gebruik ook kinders in sy koninkryk. (As jy wil, kan jy ook nou kleiner plakkies uitpak as simbool by die koninkryksuitstalling.)

Staan in die skoene van ‘n kind… en bid vir hom/haar
Elke kind kan nou hulle kaartjie* uitdeel aan ‘n ouer persoon (wat geen skoolgaande kinders het nie). Hierdie ouer persone word gevra word om hierdie week spesiaal vir hom/haar te bid. Julle kan ook ekstra name vooraf kry van ouers wie se kinders / tieners nie in die diens kan wees nie.

Gebed vir die Kinders van Suid-Afrika – Anriëtte de Ridder
Here, ons bid vir die kinders van Suid-Afrika
Ons staan in die skoene van kinders

  • wat siek is – mag ons hulle versorg
  • wat honger is – mag ons hulle voed
  • wat arm is – mag ons meer vrygewig wees
  • wat anders lyk – mag ons hulle aanvaar soos hulle is
  • wat nie geleenthede ontvang nie – mag ons ongeregtigheid regstel
  • wat bang is – mag ons hulle beskerm
  • wat hartseer voel  – mag ons hulle troos
  • wat eensaam is – mag ons hulle vriende raak
  • wat nie ouers het nie – mag ons hulle familie wees
  • wat nie in hulleself glo nie – mag ons hulle grootste ondersteuners wees
  • wat dink hulle het nie ‘n stem nie – mag ons regtig na hulle luister
  • wat hopeloos voel – mag ons hulle raaksien

Here, mag ons elke kind se drome aanmoedig, en elkeen die vryheid gee om te groei.
Mag hulle idees en kreatiwiteit ons inspireer om die wêreld ‘n beter plek te maak.
Mag ons kinders se geloof en wysheid erken en by hulle leer.
En Here, help ons om elke kind te omarm met Jesus se liefde. Amen

Leave a Reply