Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Koninkrykstyd – Identiteit in Christus
Hierdie week se intergenerasionele wenk se tema is ons identiteit as volgelinge van Christus. In Koninkrykstyd dink ons daaraan dat die Here ons roep as sy verteenwoordigers om as koningskinders te heers en om te gee vir die wêreld.
Hulpmiddels: Simbole van Koninkrykstyd (aardbol, groen lap, groen boomtak, sandale, en papier seilboot). Maak ook vooraf ‘n kroon uit karton en versier met koerantpapier. Kry ook alles gereed sodat almal in die erediens ook ‘n kroon kan maak en/of druk die uitdeelstuk uit.
Koninkrykstyd simbole
Verduidelik dat ons in die seisoen Koninkrykstyd is en waarvoor die simbole staan.
Ons het verlede week die seilboot gebruik om te dink aan die taak wat Jesus ons gegee het om na die wêreld uit te gaan (vaar) as sy dissipels. Vandag gesels ons oor ons identiteit in Christus.
Identiteit?
Wie ons is of wat ons posisie in die samelewing is, word soms deur simbole of titels beskryf. ‘n Sekere tipe skoolbaadjie of wapen kan dalk vir ander wys dat jy op die leerlingraad van ‘n skool is. ‘n Ander kleur rugbytrui en fluitjie wys dalk dat jy die skeidsregter is. ‘n Doktersjas en stetoskoop wys daarop dat jy ‘n dokter is. ‘n Uniform wys dat jy ‘n polisieman/vrou of brandweerman/vrou is.
Gespreksvraag: Maar wat wys vir mense dat jy ‘n Christen is? Hoe weet mense hulle kan jou glo as jy die evangelie deel?
Ons identiteit in Christus
Ons identiteit lê nie in hoe ons lyk as ons in die spieël kyk of wat ons aantrek nie – maar dat ons koningskinders is wat deur God geroep is. Ons is uitgekies, vergewe, gered, bestem en begenadig. Ons hoef nie ‘n spesiale talent of ‘n belangrike persoon te wees nie, want ons verteenwoordig Jesus. Ons hoef nie perfek te wees nie, ons hoef net onsself te wees, want ons kom in Jesus se Naam. Daarom kan ons met vrymoedigheid getuig. God wys dwarsdeur die Bybel dat Hy gewone mense gebruik, met foute en al, om sy werk te doen. Hy het vissermanne geroep. Hy roep ook vir jou!
‘n Kroon herinner ons daaraan dat Jesus ons Koning is en oor sy Koninkryk regeer. Maar dié koerant kroon herinner ons daaraan dat Jesus ‘n ander tipe koning is wat doodgewone mense gebruik as sy ambassadeurs. Daarom plak ons dit vol gewone koerantpapier en is dit nie vol duur versierings nie.
Gespreksvraag: Wat is die een ding wat jy hierdie week kan doen sodat ander Jesus se lig kan sien wat deur jou skyn?
Woordsoek uitdeelstuk: Vul almal die woordsoek aktiwiteit in.
Kroon aktiwiteit: Maak krone en versier met koerantpapier.