Skip to main content
GeloofsgewoontesLiturgie

Mededeelsaamheid (Dankoffers)

By June 14, 2021April 1st, 2022No Comments

Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Mededeelsaamheid (Dankoffers)

Vandag se intergenerasionele wenk gaan oor mededeelsaamheid en hoekom ons dankoffers / kollekte gee in die kerk.

Offergawes / Bydraes
Vandag is ‘n ideale geleentheid vir ‘n leraar om te verduidelik hoekom ons dankoffers gee / bydraes maak (en ook ons tyd gee en gawes deel) en waarvoor dit gebruik word. Ons lewens is verander deur die opstanding van Jesus en ons navolging van Hom. Deur offers te gee en na mekaar om te sien, getuig ons hoe dankbaar ons is oor Jesus. Daarom noem ons dit ‘n dank+offer. Daar is egter nog baie ander maniere om mededeelsaam te wees.

Gebruik die speletjie of die storie om dit interaktief toe te pas:

Speletjie
Gooi ‘n dobbelsteen om te bepaal watter vraag bespreek moet word. Gooi vir elke “blok” in die kerk om te antwoord (hulle gesels oor die ooreenkomstige vraag) en vir mense tuis om te antwoord. En/of stuur die vrae vooraf per e-pos of WhatsApp na mense wat tuis is.

  1. Wat het ek/ons in oormaat wat ons kan weggee of skenk?
  2. Op watter maniere kan ek hierdie week van my tyd aan ander gee?
  3. Vir wie kan ek woorde gee (maw ‘n WA boodskap of stemboodskap stuur)?
  4. Wat kan ek hierdie week bak / kook / maak om vir iemand te gee?
  5. Wat besit ek/ons wat ek/ons met iemand kan deel / leen?
  6. Watter diensbare dade kan ek/ons vir ander doen?

Storie (Ware verhaal)
Gebruik ‘n bruinbrood toebroodjie met botter en appelkooskonfyt en ‘n wit rolletjie met botter, Bovril en kaas ter illustrasie.
Verbeel julle hierdie 2 broodjies behoort aan 2 graad 7 dogters: Elizabeth en Nicola. Elizabeth kry solank as wat sy onthou presies dieselfde broodjie elke dag vir pouse kos –  verbeeldinglose botter en appelkooskonfyt op 2 snye volgraanbrood, toegedraai in ‘n stukkie tinfoelie. Sy eet langtand elke dag daaraan en wens sy kon vir ‘n slag iets anders kry soos Nicola. Nicola se ouers bly in ‘n groot huis op die bult en Elizabeth meen dit is seker hoekom sy elke dag die heerlikste vars witbroodrolletjies met botter, Bovril en kaas kry in haar kosblik. Een dag, tot haar verbasing, vra Nicola of sy dalk broodjies wil ruil. Elizabeth kan nie haar ore glo nie en vra agterdogtig hoekom Nicola haar broodjies wil hê? Nicola verduidelik dat sy al so moeg is daarvan om elke dag ‘n witbroodrolletjie te kry, en sy wens al so lank sy kon eerder Elizabeth se heerlike bruinbrood toebroodjie kry. Sy het egter nooit gedink Elizabeth sal wil ruil nie, en het daarom maande geneem voor sy gevra het. Die twee maats lag toe hulle besef dat hulle beide gewens het hulle kon ruil, en dat hulle nou daagliks dit kan doen, sodat albei gelukkiger kan wees.

Soms is mededeelsaamheid net na een rigting, maar meer dikwels is dit wedersyds. Elkeen van ons het dalk iets wat ons kan gee vir ander, maar daar is ook tye wat ander aan ons iets gee of ons help. Mededeelsaamheid beteken ons deel wat ons het met mekaar, sodat almal alles kan geniet.

Gesels in die banke: Vertel van ‘n keer toe iemand iets met jou gedeel het of vir jou gegee het.

Nog wenke vir families om mededeelsaam te weeshttps://dinkjeug.co.za/doen-idees-vir-families-om-mededeelsaam-te-wees/

‘n KIX kinderles oor ‘n soortgelyke gedeelte in Handelinge 2:42-47: https://kixkinders.co.za/wp-content/uploads/2017/04/Ontmoeting-12-Resep-vir-n-gelukkige-gemeente.pdf

Leave a Reply