Skip to main content
Erediens: Kerkjaar

Advent week 2 (Vrede)

By November 29, 2021March 30th, 2022No Comments

Intergenerasionele erediens wenk

Tema: Advent Sondag 2 – Vrede

Hierdie week is die tweede week van Advent. Elke week van Advent steek ons ʼn kers aan om ons aan ʼn spesifieke boodskap van Advent te herinner. (Drie pers of blou kerse, ʼn pienk kers en ʼn wit Christus-kers. Die eerste kers – hoop – brand reeds.) Hierdie week steek ons die vrede-kers aan. Tydens die votum kan jy ʼn kind uit die gemeente nooi om die kers te kom aansteek.

Storie / visuele hulpmiddel:
Paulus skryf in Filippense 1: vv9-10: “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.” Moontlik met die gedagte dat gedeelde prioriteite sal sorg dat dissipels van Jesus makliker kan saamwerk met mekaar en met God. Die analogie van die groot klippe, klein klippies en sand help ons hiermee.

As jy ‘n houer neem met groot klippe, kleiner klippe en sand, kan jy vir die gemeente vra of alles in die houer sal pas. Gooi dan sommer die sand in en begin die groot klippe inpak. Die kanse is goed dat die groot klippe nie alles sal pas nie.

Begin dan weer voor en pak die groot klippe in, gooi daarna die kleiner klippies tussen-in en gooi dan die sand by. Die kanse is baie groot dat daar nou baie meer in die houer sal wees as met die eerste rondte.

Die groot klippe verteenwoordig die belangrikste dinge, soos Jesus se groot gebod – jy moet die Here liefhê met jou hele hart, al jou krag en al jou verstand en jou naaste soos jouself.

Die kleiner klippe is goed wat ook belangrik is, maar nie so “groot” nie, soos om goeie maniere te hê en nie lelik te praat nie.

Die sand is goed wat lekker is maar nie die belangrikste is nie, soos watter tipe liedjies ons in die kerk sing een of ons kerk-basaar moet hou.

Wanneer jy eers fokus op die sand-goed, dan maak dit die plek vir groot-klip goed taamlik min.

Paulus vra die Filippense om te fokus op die groot-klip goed, sodat hulle reg kan wees vir wanneer Jesus kom.

Gespreksvrae in die banke:

  • Wat dink julle is die sand-goed wat ons in die kerk soms eerste in die houer gooi?
  • Wat gebeur tussen mense wanneer ons daardie sand-goed eerste in die houer gooi?

Leave a Reply