Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Paasfees – Opstanding en Doopherinnering
Vandag se intergenerasionele wenk gaan oor die viering van die opstanding deur ‘n doopherinnering te doen.
Die opstanding groet
Vandag vier ons Paasfees. Christene herdenk vandag in alle kerke wêreldwyd Jesus se opstanding – die hoogtepunt op die kerkjaar kalender. Baie Christene kom reeds met sonsopkoms bymekaar soos die vroue wat vroegoggend na die graf toe is. Kom ons groet mekaar vanoggend, soos Christene dit wêreldwyd doen, met die woorde:
“Christus het opgestaan” en dan antwoord die ander persoon “Christus het waarlik opgestaan.”
Doop en Paasfees
Baie Christene wat nuut tot geloof gekom het, of babas van gelowige ouers word dwarsoor die wêreld ook vandag – op Paassondag – gedoop. Weet julle hoekom? Die doop herinner ons dat:
Ons is een met Christus. Ons het saam met Christus gesterf en opgestaan. En dat Sy belofte van vergifnis ook vir ons bedoel is. Deur Jesus, word ons deel van Sy kerk en ook gevul met die Gees wat ons help om getuies te wees in die wêreld – net soos die eerste vroue en dissipels oor Jesus getuig het.
Daarom gaan ons vanoggend ook mekaar herinner aan ons eie doop.
Gesels in die banke: Wat weet jy van jou doop (datum, plek, doopklere, het jy gehuil in die diens, wie was daar, ensovoorts) Vertel / herinner mekaar. Indien jy nie gedoop is nie, vertel van iemand anders se doop waar jy was.
Doopherinnering
Doen nou ‘n doopherinnering waar lidmate in die banke (in gesinsverband) hulle hande in bakkies water druk en ‘n kruisie op mekaar se hande maak met die woorde: “Jy is gedoop – Jesus het vir jou gesterf en opgestaan!”
Tuis: Families kan tuis ook vandag doopfoto’s uithaal en kinders se doopkerse aansteek. Hulle kan ook die Lydenstyd simbole wegpak en vervang met blomme asook ‘n wit lint of tou aan hulle deurknoppe hang om hulle te herinner aan Jesus se opstanding.
Vir ‘n volle doopherinnering liturgie: https://dinkjeug.co.za/doopherinnering/